Central SA
Welkom: Beskuldigde verander sy storie ná bejaarde sterf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:09 Thu, 20 Aug 2026
’n Vrystater wat voorheen erken het dat hy ’n bejaarde man doodgeslaan het, het nou sy weergawe verander en beweer dat hy uit selfverdediging opgetree het.
André van den Berg (49) se verhoor sal na verwagting op 28 September begin nadat hy Dinsdag (18/8) in die Welkomse landdroshof sy weergawe verander het. Hy staan tereg op aanklagte van moord en huisroof ná die dood van Piet Hendriks (81) op 23 Mei.
Die beskuldigde het tydens ’n vorige hofverskyning gesê hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie “omdat hy weet wat hy gedoen het”. Van den Berg het ook voorheen ’n skulderkenning by die polisie afgelê. Sy nuwe weergawe van die gebeure sal na verwagting tydens die verhoor aan die hof voorgelê word.
'Bejaarde het hom glo R7 000 geskuld'
Van den Berg word daarvan beskuldig dat hy Hendriks met ’n baksteen doodgeslaan het ná ’n rusie oor geld. Hy het glo stukwerk by Hendriks se huis gedoen en beweer die bejaarde het hom R7 000 geskuld. ’n Rusie het volgens sy nuwe weergawe tussen die twee ontstaan.
Van den Berg beweer Hendriks het hom eerste geslaan. Hy het daarna glo ’n baksteen opgetel en die bejaarde daarmee geslaan. Hendriks se liggaam is later in die kombuis van sy huis in die Doorn-woonbuurt gevind. ’n Ingeligte het voorheen aan OFM Nuus gesê Hendriks het ook verskeie steekwonde gehad en is “erg aangerand”.
Van den Berg het glo ná die voorval met Hendriks se Mazda 3 van die toneel gevlug. Hy is dieselfde dag in Humewood, Gqeberha, in hegtenis geneem nadat die voertuig met behulp van ’n opsporingstelsel opgespoor is.
“Die inligting is met die polisie gedeel, waarna beslag op die voertuig gelê is en die verdagte in hegtenis geneem is,” het Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, voorheen gesê. ’n Televisie is glo ook uit die woning gesteel. Die staat vervolg Van den Berg daarom op aanklagte van moord en huisroof.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

