On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde verkragter lewenslank tronk toe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:34 Thu, 20 Aug 2026

Bejaarde verkragter lewenslank tronk toe | News Article
Barend Hendrik van der Berg. Foto verskaf

’n Bejaarde Vrystater wat skuldig bevind is aan die verkragting van ’n minderjarige, moes vanuit sy hospitaalbed hoor hy sal die res van sy lewe agter tralies deurbring.

Barend Hendrik van der Berg (84) van Petrusburg is Woensdag (19/8) tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir verkragting. Hy is ook 15 jaar opgelê vir seksuele uitbuiting van ’n kind en vier jaar omdat hy kinders gedwing het om toe te kyk, sê brig. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die vonnisoplegging sou aanvanklik op 6 Augustus plaasgevind het, maar is uitgestel nadat Van der Berg na bewering in die stort geval en sy heup beseer het. “Die vonnis sou nie hierdie week plaasgevind het nie omdat my kliënt ’n heupvervanging nodig het,” sê Francois Retief, sy regsverteenwoordiger.

Die vonnisoplegging is egter virtueel afgehandel nadat die landdros gesê het dat sy die saak wil afhandel. ’n Datum vir die operasie is nog nie vasgestel nie.

Van der Berg is op 20 Julie skuldig bevind nadat die hof bevind het die staat se getuienis is geloofwaardig. Hy is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding en word deur die departement van korrektiewe dienste in die hospitaal bewaak.

Die saak het in Julie 2024 aan die lig gekom nadat ’n onderwyser in Petrusburg bewus geword het van bewerings dat ’n agtjarige meisie seksueel deur Van der Berg misbruik word. Die kind het aan die onderwyser vertel wat gebeur het, waarna die polisie ontbied is.

Die meisie het gereeld ná skool Van der Berg se woning besoek, waar hy vir haar en ander kinders brood, koekies en koeldrank gegee en hulle toegelaat het om in sy swembad te swem. Die verkragting het daarna plaasgevind.

'Besluit sal geneem word oor ’n appèl teen die vonnis.'

Twee ander kinders, toe sewe en nege jaar oud, het die seksuele daad aanskou. Die landdros het bevind al drie kinders was geloofwaardige getuies en Van der Berg se bewering verwerp dat hulle deur ander mense beïnvloed of afgerig is om valse aantygings te maak.

Die hof het hom skuldig bevind aan verkragting, seksuele uitbuiting ingevolge artikel 17 en die veroorsaking dat ’n kind ’n seksuele daad aanskou ingevolge artikel 21.

“Die staat het tydens vonnisoplegging gewys op die erns van die misdrywe, die gevaar wat Van der Berg vir kinders inhou, asook die trauma wat die slagoffer in haar slagofferimpakverklaring beskryf het,” sê Mbambo.

Retief het vroeër gesê ’n korrektiewetoesigverslag is aangevra omdat Van der Berg se ouderdom moontlik ’n rol in die eindelike vonnis kon speel.

Die staat het egter gesê sy ouderdom het hom nie daarvan weerhou om die misdrywe te pleeg nie en dat die voorgeskrewe minimum vonnisse opgelê behoort te word.

Benewens die gevangenisstraf is Van der Berg se naam op die register vir seksuele oortreders geplaas en is hy onbevoeg verklaar om met kinders te werk.

“Ons is geskok oor die vonnis, veral in die lig van sy ouderdom,” sê Retief. Hy sal nou met Van der Berg se familie konsulteer voordat ’n besluit geneem word oor moontlike verdere regstappe en ’n appèl teen die vonnis.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.