On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Vergrote mangels laat driejarige na asem snak

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:30 Tue, 25 Aug 2026

Vergrote mangels laat driejarige na asem snak | News Article
Novalee Wienand. Foto verskaf

Wat vir ander kleuters vanselfsprekend is, is vir ’n driejarige van Krugersdorp ’n daaglikse stryd.

Nou bly net twee dae oor om die nodige hulp vir ’n noodsaaklike operasie te kry. Novalee Wienand sukkel al die afgelope ses maande met ’n aanhoudende toe neus, seer keel, pyn en asemhalingsprobleme.

Ná talle doktersbesoeke en behandelings is sy eindelik na ’n ENT-spesialis verwys, wat bevind het dat haar mangels en adenoïede erg vergroot is, sê Tarryn-Lee Wienand, haar ma.

“Ons het medikasie na medikasie probeer, basies alles wat ons kon kry wat moontlik kon help, maar niks het gewerk nie. Ses maande later het sy steeds gesukkel.”

Tarryn-Lee sê Novalee is 'n baie gelukkige kind. Foto verskaf

Novalee het reeds van kleins af met haar gesondheid gesukkel. Sy was skaars twee weke oud toe sy vir ’n longinfeksie in die noodgevalle-eenheid beland het en het gedurende haar eerste jaar meer tyd in die hospitaal as tuis deurgebring.

Nadat asma en hipersensitiewe lugweë by haar gediagnoseer is, is sy al byna twee jaar op chroniese medikasie. Wanneer sy goed voel, is sy ’n avontuurlustige en energieke klein “Miss Independent” wat daarvan hou om buite te speel, in die water te wees en saam met haar pa te gaan visvang.

“Sy is ’n klein besige bytjie. Sy is heeltyd aan die gang, hardloop rond, verken die wêreld en hou almal om haar ook besig,” vertel Wienand. Die afgelope ses maande het dié energie egter plek gemaak vir pyn en ongemak.

Sy is die afgelope ses maande sowat 15 keer dokter toe geneem. Foto verskaf

“Daar is tye wat sy eerder net langs my wil sit of lê omdat sy ongemaklik is. Ons kan eerlikwaar nêrens heen gaan sonder om iets by ons te hê om haar neus gedurig af te vee nie.”

Snags is die moeilikste. “Sy word amper elke uur wakker, sit regop en huil omdat sy pyn het en sukkel om asem te haal.” Omdat haar neus heeltemal toe is, moet Novalee deur haar mond asemhaal, wat dit selfs moeiliker maak vir haar om met haar fopspeen te probeer slaap.

Sy is die afgelope ses maande sowat 15 keer dokter toe geneem en het ook twee keer ’n pediater besoek. “Ek weet nie eens presies hoeveel ons spandeer het nie, want daar was so baie afsprake, medikasie en behandelings, maar dit is beslis duisende rande,” sê Wienand.

Renier Frik Wienand, Tarryn-Lee en Novalee. Foto verskaf

Die oor-neus-en-keelspesialis het eindelik aanbeveel dat Novalee se mangels en adenoïede verwyder word. “Die behandeling wat sy nodig het, sal hopelik ’n einde aan haar probleme bring. Ons hoop regtig dat sy daarna weer haarself sal wees,” sê Wienand.

Die probleem is egter dat die gesin nie die operasie self kan bekostig nie. Hul mediese fonds het geweier om die prosedure te dek, wat beteken dat hulle die volle bedrag van R16 700 self moet betaal.

Novalee moet Donderdag (27/8) vir die operasie gaan, maar die gesin het nog net R4 870 ingesamel. “Ons vra nie die gemeenskap om ons verantwoordelikhede as ouers oor te neem nie.


“Ons vra vir hulp omdat ons op ’n punt gekom het waar ons, ondanks alles wat ons probeer het, eenvoudig nie hierdie operasie op ons eie kan bekostig nie,” sê Wienand.

Die gesin het selfs kwetsende boodskappe ontvang van mense wat gesê het hulle moes nooit kinders gehad het as hulle dit nie kon bekostig om vir hulle te sorg nie. “Daardie woorde maak diep seer, want niemand weet waardeur ’n gesin agter geslote deure gaan nie. Ons is eenvoudig ouers wat probeer om ons klein dogtertjie te help,” sê sy.

“Ons wil niks meer hê as om ons klein dogtertjie gesond te sien, rustig te sien slaap, gemaklik te sien asemhaal en weer die gelukkige, avontuurlustige dogtertjie te sien wat sy is nie.

“Of iemand finansieel kan bydra, haar storie kan deel of ons net kan help om iemand te bereik wat kan help – dit sal meer vir ons beteken as wat ons ooit in woorde kan uitdruk.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.