Central SA
Liggame van twee vermiste jagters ná byna drie weke gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:34 Tue, 25 Aug 2026
Die Vrystaatse polisie vra enigiemand om na vore te kom met inligting oor die dood van twee mans wie se liggame ná ’n uitgebreide soek-en-reddingsoperasie van byna drie weke gevind is.
Sello Khala (38) en Fana Nale (22), albei van Lusaka Villiga in Qwaqwa, is sedert 9 Augustus vermis nadat hulle saam met ’n vriend op ’n jagtog vertrek het. Hulle het tydens ’n reis oor die Sephokong-berg vermis geraak, sê sers. Mahlomola Kareli, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die oorledenes was deel van drie mans wat weens digte mis van mekaar geskei geraak het. Een van hulle het veilig tuisgekom, maar Khala en Nale het nie teruggekeer nie.
’n Soekgeselskap is onmiddellik op die been gebring, waarna Khala se liggaam Vrydag (21/8) omstreeks 12:30 op die berg gevind is. Ten spyte van die moeilike terrein het die span met die soektog voortgegaan en Nale se liggaam is Maandag (24/8) gevind.
“Albei families het die oorledenes formeel geïdentifiseer. Lykskouings sal uitgevoer word om die presiese oorsaak van hul dood te bepaal,” sê Kareli.
Enigiemand wat moontlik inligting oor hierdie voorval het, word versoek om ao. Mathibela van die Phuthaditjhaba-speurdiens by 082 554 3461 te kontak. Inligting kan ook anoniem aan Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-app deurgegee word.
In ’n ander saak ondersoek die Mothibistad-polisie in die Noord-Kaap ’n moord nadat die liggaam van ’n 19-jarige man langs die N14 naby Ganhaai-dorp gevind is.

Die Sephokong-berg. Foto verskaf
Die polisie het Maandag (24/8) inligting van ’n gemeenskapslid ontvang oor ’n liggaam wat langs die pad lê. Met hul aankoms op die toneel is die liggaam van ’n man met verskeie steekwonde gevind, sê Kareli.
Nooddienste het die man op die toneel dood verklaar. Die oorledene is vermoedelik van Kagung afkomstig. Die motief vir die moord is nog onbekend en die ondersoek duur voort.
Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagte te identifiseer of die omstandighede rondom die moord vas te stel, word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Phenyo Chwene, by 082 416 1095 te kontak. Bel Stop Misdaad by 0860010111. Anonieme wenke kan ook via die MySAPS-app gestuur word.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
