Central SA
Twee skuldig aan bedrog by staatsmotorhawe─── 10:34 Wed, 26 Aug 2026
’n Motorhandelaar en ’n klerk by die staatsgarage in Bloemfontein sal waarskynlik in Oktober gevonnis word weens bedrog en geldwassery wat verband hou met staatsvoertuie.
Die Bloemfonteinse landdroshof het Mohammed Cajee (40), sy onderneming MNS Cars en staatswerker Jeanne Kellerman (55) skuldig bevind op aanklagte van bedrog en geldwassery. Die saak hou verband met ‘n geknoei met opgeveilde voertuie.
Ao. Fikiswa Matoti, Valke-woordvoerder, sê verskeie veilings is in 2003 by die staatsmotorhawe in Bloemfontein gehou. Altesaam 18 voertuie is aan Cajee, maatskappydirekteur van MNS Cars, verkoop vir R1,16 miljoen.
“Hy het ’n deposito van R150 000 betaal en moes die uitstaande balans ten volle vereffen voordat die voertuie deur die motorhawe vrygestel kon word.”

Mohammed Cajee. Foto verskaf
Kellerman, ’n voormalige senior administratiewe klerk by die staatsmotorhawe, het egter die voertuie aan hom gelewer sonder dat die uitstaande balans vereffen is, in stryd met departementele beleid.
Hy het ook die kompleks se veiligheidsbeampte om die bos gelei om dit makliker te maak om die voertuie beskikbaar te stel.
“Die saak is aangemeld by die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie-ondersoeke in Bloemfontein. By verdere ondersoek is vasgestel Kellerman het R10 000 van sy medepligtige ontvang vir sy aandeel.”

Jeanne Kellerman. Foto verskaf
Die hof het lasbriewe uitgereik vir albei se inhegtenisneming. Op 14 November 2023 het Kellerman en Cajee hulle aan die Valke se ondersoekbeampte oorgegee en is hulle aangekla.
Hulle is destyds vrygelaat op borgtog van onderskeidelik R3 000 en R23 000. Die vonnisverrigtinge word hervat op 13 Oktober.
Die staatsmotorhawe, op die hoek van Harveyweg en Rhodeslaan in Oranjesig, val onder die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer. Dit hanteer vlootbestuur vir provinsiale departemente, insluitend die toewysing van voertuie, nasporing, instandhouding en herstelwerk.
Metro-voertuie glo onttrek
Bloemfontein Courant het in Junie berig die Mangaung-metro is ’n groot slag toegedien toe 34 munisipale voertuie luidens berigte deur die staatsmotorhawe teruggeneem is. Die metro het dié weergawe ontken en gesê die vloot is vrywillig teruggestuur te midde van ’n geskil oor huurbetaling en fakture.
Daar is berig voertuie van die verkeersafdeling en korporatiewe dienste is onttrek weens skuld van na bewering meer as R23 miljoen.
Nicolette Maysiels, metro-woordvoerder, het egter gesê die hoof van korporatiewe dienste het gereël dat voertuie teruggestuur word om die opbou van verdere skuld te voorkom.
Die voertuie het geval onder ’n huurkontrak wat in Oktober verval het en daarna op ’n maand-tot-maand-grondslag voortgesit is. Die metro het gemeen die geskil beloop sowat R13 miljoen, terwyl die provinsie volgehou het die bedrag is nagenoeg R23.
Die metro is verkeerd gefaktureer vir sekere voertuie wat afgeskryf is of lank buite gebruik was, het Maysiels gesê. ’n Volledige rekonsiliasie van die betrokke fakture is aangevra. Vier voertuie vir politieke ampsdraers was aanvanklik ingesluit, maar was nie teruggeneem nie.
Intussen is ’n kontrak vir ’n nuwe instandhoudingsvloot gesluit, wat in fases afgelewer word. Die premier het gesê die 34 voertuie moet aan die metro terugbesorg word totdat die nuwes volledig beskikbaar sou wees.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

