Central SA
Dolly Parton: Die stem wat vir altyd sal voortleef─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:03 Wed, 26 Aug 2026
As Dolly Parton ons iets geleer het, is dit om versigtig te wees vir ’n vrou met die naam Jolene, hoe om die nege-tot-vyf-lewe te oorleef en om nooit op te hou glo in liefde nie.
Parton is Dinsdag (25/8) in die ouderdom van 80 oorlede nadat sy ’n kort rukkie kanker gehad het. Sy was omring deur geliefdes toe sy sterf in Nashville, Tennessee.
Sy het kort voor haar dood baie oor haar gesondheid gepraat. Die country-ikoon moes verskeie van haar beplande optredes in Las Vegas uitstel en later kanselleer nadat sy met aanhoudende gesondheidsprobleme geworstel het.
In video’s wat sy op sosiale media gedeel het, het Parton verduidelik haar behandeling vir ’n ongespesifiseerde toestand verloop goed, maar sy voel steeds nie sterk genoeg om terug te keer na die verhoog nie.
Haar optredes is reeds in Oktober weens “gesondheidsuitdagings” uitgestel. Volgens People het Parton voor haar dood ook met nierprobleme en ’n outo-immuuntoestand gesukkel. Die presiese soort kanker is egter nie bekendgemaak nie.
Parton se loopbaan het oor byna 60 jaar gestrek en sy het meer as 100 miljoen plate wêreldwyd verkoop. Reuters beskryf haar as een van die grootste figure in country-musiek. Haar loopbaan het ingesluit musiek, rolprente, televisie, sakeondernemings en liefdadigheidswerk.
Sy is op 19 Januarie 1946 in Tennessee gebore en het uit ’n arm gesin met twaalf kinders gekom. Sy het reeds op ses haar eerste liedjie geskryf, en haar ma het die liedjie in ’n skoendoos bewaar.

Dolly het meer as 100 miljoen plate wêreldwyd verkoop. Foto: Dolly Parton/Facebook
Sy was 18 jaar oud toe sy die dag nadat sy met hoërskool klaargemaak het, in 1964 na Nashville, Tennessee, verhuis het om ’n loopbaan in country-musiek te begin. Sy het reeds as tiener haar eerste enkelsnit, “Puppy Love”, opgeneem, maar Nashville was waar sy haar musiekloopbaan wou uitbou.
Parton het eindelik meer as 3 000 liedjies geskryf, waarvan talle wêreldbekend geword het. Onder haar grootste treffers is “Jolene”, “9 to 5”, “Coat of Many Colors”, “I Will Always Love You” en “Here You Come Again”.
“I Will Always Love You” is oorspronklik deur Parton geskryf as ’n afskeidslied nadat haar professionele verhouding met Porter Wagoner tot ’n einde gekom het. Whitney Houston se weergawe het die liedjie later wêreldwyd bekend gemaak. “9 to 5” het ’n groot treffer geword nadat Parton dit vir die gelyknamige 1980-fliek skryf het.

Sy is in 1999 in die Country Music Hall of Fame and Museum opgeneem. Foto: Dolly Parton/Facebook
In 1980 het sy haar fliekdebuut in 9 to 5 gemaak, saam met Jane Fonda en Lily Tomlin. Die titellied het haar ’n Oscar-benoeming vir beste oorspronklike lied besorg. Sy het later ook in rolprente soos The Best Little Whorehouse in Texas en Steel Magnolias verskyn.
Parton was ook betrokke by die ontwikkeling van Dollywood in Tennessee, wat een van die streek se grootste toeriste-aantreklikhede geword het.
Sy het elf Grammy’s gewen en is onder meer in die Country Music Hall of Fame en Rock & Roll Hall of Fame opgeneem. Sy het ook die gesogte National Medal of Arts ontvang.

Dolly Parton is oorlede aan kanker. Foto verskaf
Parton is in 1999 in die Country Music Hall of Fame and Museum opgeneem, uit erkenning vir haar werk as country-sangeres en liedjieskrywer, sowel as haar sukses as aktrise, sakevrou en filantroop. Sy het in 2025 ook die Jean Hersholt Humanitarian Award ontvang vir haar humanitêre werk.
Sy het in 1995 die Dolly Parton Imagination Library gestig, wat gratis boeke onder jong kinders versprei. Die program het deur die jare wêreldwyd uitgebrei en honderdmiljoene boeke aan kinders beskikbaar gestel.

Kindergeletterdheid is een van die belangrikste aspekte van Parton se filantropiese nalatenskap. Sy het ook in 2020 ’n $1 miljoen-skenking aan Vanderbilt University gedoen vir Covid-19-navorsing wat met die ontwikkeling van Moderna se entstof verbind is.
In die agtergrond van die blink klere, groot hare en kenmerkende verhoogpersoonlikheid was Parton se lang verhouding met haar man, Carl Dean. Die twee is in 1966 getroud en was volgens The Guardian byna 60 jaar saam tot Dean in Maart verlede jaar oorlede is.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
