Central SA
Waardevolle Afrikaanse handleiding oor demensie─── SUSAN MARÉ 13:27 Wed, 26 Aug 2026
’n Nuwe Afrikaanse boek oor demensie bied waardevolle inligting en leiding aan almal wat verwant is aan mense by wie demensie of alzheimersiekte gediagnoseer is.
Annamarie Kruger van Centurion, ’n verpleegkundige, is die skrywer van Demensie: Die wie, wat, waarom, wanneer en hoe. Dis die verhaal van haar ma wie se gesig op ’n Saterdagmiddag skielik skeefgetrek het en hoe dit tot diagnose as demensielyer gely het.
Dit was die begin van ’n lang en onbekende pad vir die Kruger-familie om hul ma, Martie, se veranderde wêreld te verstaan en haar te versorg. Demensie is op Martie se 75ste verjaardag gediagnoseer en sy is in haar 96ste jaar oorlede.
September is Internasionale Alzheimersmaand, en 21 September is Wêreld-Alzheimersdag. Dié maand is toegespits op bewusmaking oor dié siekte en demensie.

Annamarie Kruger se boek is in Mei vanjaar gepubliseer.
Annamarie en haar susters, Ina en Louisa, is behoorlik deur die vuurdoop, ontwrigting en skok toe hul ma gediagnoseer is. Demensie en alzheimersiekte is toestande waarvan die meeste mense nog net vaagweg weet. Vir hulle naby aan so iemand is dit traumaties.
Min weet daar is ’n verskil tussen die twee. Daar is verskillende soorte demensie, waarvan alzheimersiekte een is. Ander sluit in vaskulêre demensie, Lewy-liggaamdemensie, frontotemporale demensie en ander minder bekendes.
Die siektes so oud soos die berge en is reeds in 2000 v.C. in Antieke Griekeland en Egipte waargeneem.
Alzheimer se siekte is in die 20ste eeu eers gedokumenteer toe dr. Alois Alzheimer (1864–1915), ’n Duitse psigiater en neuropatoloog, ’n vrou (51) behandel het. Sy het aan geheueverlies, hallusinasie en hallusinatoriese jaloesie gely.
Na haar afsterwe in 1906 het Alzheimer haar brein onder ’n mikroskoop bestudeer en dun, gekoekte drade en mikroskopiese plate ontdek. In dieselfde jaar is die bevinding amptelik aangebied en het hierdie siekte sy naam gekry.
Demensie is ’n term wat insluit ’n stel simptome wat geheueverlies en probleme met denke, probleemoplossing of taal. Veranderinge in bui en gedrag word ook met demensie verbind. Volgens ’n studie kom demensie in die een of ander stadium by sowat 10% van die mensdom voor.
Die getal sterftes veroorsaak deur demensie het aansienlik toegeneem en verdubbel tussen 1990 en 2013. Die erns word gekategoriseer op grond van die vlak van gestremdheid wat veroorsaak word as gevolg van die neurologiese afwykings.
Annamarie sê die boek is geskryf vir almal wat die moeilike pad met geliefdes moet loop by wie demensie- of alzheimersiekte gediagnoseer is.
Afdeling A handel oor die agtergrond van demensie. Die verskeie soorte word bespreek, asook die persoonlikheids- en gedragsveranderinge en die fases van kognitiewe, psigiese en fisieke verswakking.
In Deel B bied Annamarie praktiese inligting – selfbemagtiging vir die kinders van ’n demensielyer. Sy skryf van die eerste skokbesef en reaksie, die verdere impak van demensie op geliefdes en die belangrikheid van familiebesluite.
Dit sluit in ’n verdeling van familieverantwoordelikhede, noodsaaklike prosedures vir versorging, en geskikte verblyf, finansiële en regswenke.
“Ek en my twee susters het 21 jaar lank saam met ons ma hierdie onbekende pad gestap – ’n ervaring van saam beplan, leer, ondersteun, bid, huil en lag. Uit al hierdie ervaring het die behoefte ontstaan om ons praktiese kennis met ander families te deel.
“Die boek is ’n praktiese gids vir kinders, familie en ook versorgers. Dit behandel onder meer die vroeë tekens van demensie. My doel met die boek is eenvoudig – om families in te lig om beter vir hierdie onbekende pad voor te berei.”
Bel Annamarie by 072 408 1354 met navrae oor die boek of om haar vir praatjies te nooi.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

