Central SA
Boesemvriende van Lichtenburg wat saam sterf, dan gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:41 Wed, 26 Aug 2026
Die twee boesemvriende wat dié naweek hul lewe in ’n motorongeluk verloor het, het iets gemeen gehad: Daar was altyd tyd om iemand anders te help.
Roebert Kruger (26) en Zayler Rall (24) was Sondag onderweg van Ottosdal na Lichtenburg toe hulle sowat 25 km buite Lichtenburg verongeluk het. Hulle is op die toneel dood verklaar.
Die omstandighede wat tot die noodlottige ongeluk gelei het, is steeds nie heeltemal duidelik nie. Die families probeer self sin maak van wat gebeur het. Een van die moontlikhede is ’n pap band wat die bestuurder beheer oor die voertuig laat verloor het.

Roebert, Roelien en Lambert. Foto verskaf
Daar is ook vrae oor die pad self, onder meer oor die sigbaarheid van die draaie en die gebrek aan voldoende reflektors. “Vriende van ons het ná die ongeluk na die toneel gegaan en die wielspore op die pad het nie ooreengestem nie. Daarom vermoed ons dat ’n band dalk die oorsaak was,” sê Marinda, Zayler se ma.
Sy pa, Van Zyl, en sy oudste seun het Sondag gaan hengel toe hulle omstreeks 02:00 die ongelukswaarskuwing gekry het. Hulle het Marinda gaan oplaai en daarna dadelik na die ongelukstoneel gehaas. Roebert se ma, Roelien, en sy broer, Lambert, was reeds op die toneel.
“Zayler het ’n hart van goud gehad. Hy was ’n mens wat selde eerste aan homself gedink het. Hy het altyd plek gehad vir iemand. Hy was altyd meer gefokus op iemand anders se geluk as op sy eie,” sê Marinda.

Die Rall-familie. Foto verskaf
Tussen al die herinneringe aan haar seun is daar een ding wat sy die meeste gaan mis: sy drukkies. “Hy was die sagte reus, wat sy familie en vriende so liefgehad het. Almal was lief vir hom, en dit was net so lekker om hom te kon druk.”
Zayler se lewe was vol planne. Nadat sy ouers vroeër vanjaar van Lichtenburg na Bothaville verhuis het, het hy in Lichtenburg aangebly en by Lichtenburg Landini gewerk.
Hy sou vroeg in September met sy rooiseël-opleiding as dieselwerktuigkundige begin, ’n volgende stap in ’n loopbaan waarvoor hy groot planne gehad het. Van Zyl is die hoof van die Laerskool Humansvlakte, waar sy vrou, Marinda, ook skoolhou.

Roebert se broer, Lambert (29), sê die twee broers kon nie meer van mekaar verskil het nie. “Ons was soos dag en nag. Ons was heeltemal teenoorgesteld, maar ons liefde vir mekaar was baie, baie groot.”
Lambert sê Roebert was die een met die growwer, geharde boerepersoonlikheid, terwyl hy self die sagter kunstenaar is. Tog het dié verskille hulle juis goed laat saamwerk en mekaar aangevul.
Die broers het op ’n plaas grootgeword en volgens Lambert was boerdery van kleins af deel van sy broer se wese. “Die liefde vir boer was in sy bloed.” Hy het ook nege maande lank naby Kansas City in Missouri, VSA, vir ’n boer gewerk voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het. Daarna het hy in die Lichtenburg-omgewing vir ’n plaaslike boer gewerk.
“My broer het baie vir ander mense omgegee. Hoewel hy soms hard en sterk voorgekom het, het hy ’n sagte kant gehad en was hy altyd bereid om iemand te help. Hy het ’n groot hart gehad en diep omgegee vir die mense rondom hom.”
Dit is egter sy broer se humor en groot teenwoordigheid wat Lambert se huis en lewe nou die stilste gaan laat voel. “Hy was die stout een. Hy was die grappiemaker. Ek gaan sy groot persoonlikheid baie mis.”

Die vriendskap tussen Roebert en Zayler het reeds jare gelede begin. Hulle het mekaar as kinders leer ken en hul band het op hoërskool verder gegroei tot ’n hegte vriendskap.
Wat die gebeure selfs meer hartseer maak, is dat Zayler se goeie vriend Hendrik Roodt twee jaar gelede sowat 15 km verder op dieselfde pad dood is. Sy bakkie het glo ’n gat op die skouer van die pad getref, waarna hy beheer oor die voertuig verloor het.
Zayler se troosdiens word vir Vrydag (28/8) in die Christen Lewe-gemeente op Lichtenburg beplan, terwyl Roebert se gedenkdiens op 3 September in die NG Klipkerk (moedergemeente) op Lichtenburg gehou word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

