Central SA
Emfuleni-oudraadslid Gerda Senekal weer voor ná bedanking uit VF Plus─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:06 Thu, 27 Aug 2026
’n Voormalige VF Plus-raadslid van Emfuleni moet op 10 September weer in die hof verskyn weens ’n strafsaak wat verband hou met die beweerde wanvoorstelling van haar akademiese kwalifikasies.
Gerda Senekal het Donderdag (27/8) in die Vereeniging-streekhof voorgekom. Sy staan tereg op ’n aanklag van bedrog nadat ’n strafregtelike klag in 2023 by die polisie ingedien is.
Die saak het aanvanklik binne die party ter sprake gekom voordat dit in 2023 ’n strafregtelike aangeleentheid geword het. Kobus Hoffman, ’n voormalige Gautengse VF Plus-wetgewerlid, het destyds beweer Senekal het valslik voorgehou sy het grade verwerf in openbare administrasie en B.Sc.-politieke wetenskap.
’n Ondersoek het aan die lig gebring sy beskik nie oor dié kwalifikasies nie. Hofmann beweer die wanvoorstelling het Senekal onbillik bevoordeel tydens kandidaatkeuringsprosesse.
VF Plus-LP Wouter Wessels, die party se nasionale voorsitter, het vroeër aan OFM Nuus gesê Senekal het nie haar kwalifikasies op haar CV of aansoekvorm vir die raadslidpos verkeerd weergegee nie.
Sy het wel by ’n geleentheid in die openbaar die indruk gewek dat sy oor bepaalde kwalifikasies beskik. “Dissiplinêre stappe is gedoen en die interne aangeleentheid is afgehandel.”
Die hof het Donderdag gehoor Senekal se vorige regsverteenwoordiger het laat blyk hy wil hom onttrek aan die saak. Sy word nou deur Jaco van Heerden verteenwoordig.

Gerda Senekal verlaat die Vereeniging-landdroshof tydens ’n vorige verskyning. Foto: Vaalweekblad Argief
Die saak is uitgestel sodat sy nog video’s en dokumente aan hom kan oorhandig. Streeklanddros Retha Willemse het die uitstel vir verdere blootlegging toegestaan, berig Vaalweekblad.
Senekal het in die hof verskyn ’n dag nadat sy aangekondig het sy het bedank as raadslid in Emfuleni, asook uit haar leiersposte en as lid van die VF Plus.
Jaco Mulder, VF Plus-wetgewerlid en provinsiale leier, sê bewerings dat sy gevra is om te bedank, is onwaar. “Die party het haar nie gevra om te bedank nie, maar verskeie opsies is met haar bespreek in die lig van haar persoonlike omstandighede.”
Hy sê dit stel haar ook in staat om haar en die party nie onnodig bloot te stel in die aanloop tot die munisipale verkiesing op 4 November nie. “Senekal moet terselfdertyd haar seun, David, bystaan, wat in ’n afsonderlike saak teregstaan.”
David en ses ander werknemers van Emfuleni het Maandag (27/8) in die hof verskyn op aanklagte van onder meer bedrog, geldwassery, korrupsie en peutery met noodsaaklike infrastruktuur. Die bewerings teen David en die ander beskuldigdes is nog nie in die hof getoets nie.
Senekal het egter in haar weergawe van die gebeure gesê sy is gevra om as raadslid én kandidaat vir die komende verkiesing te bedank. “Die omstandighede en gepaardgaande mediaberigte kan moontlik reputasieskade vir die party en sy verkiesingsveldtog veroorsaak.”

Hoffman het kritiek uitgespreek op Senekal se bedanking en sê dit is nie billik dat die VF Plus van haar verwag om te bedank weens die optrede van haar seun nie.
“Die party se besluit laat my wonder of daar nie vrees bestaan dat die jongste inhegtenisneming moontlik ook op haar kan reflekteer nie.” Hoffman sê die “pan begin nou bietjie warm geraak” vir die VF Plus en Senekal is moontlik die een wat uiteindelik “onder die bus gegooi word”.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

