On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Reeksinbreker in streek 20 jaar tronk toe gestuur

───   11:47 Fri, 28 Aug 2026

Reeksinbreker in streek 20 jaar tronk toe gestuur | News Article
KI-geskepte voorstelling ter illustrasie

’n 60-jarige reeksinbreker is 20 jaar tronk toe gestuur vir verskeie sake in onder meer Kimberley en Bloemfontein sedert 1980.

Die polisie sê hul Vrystaatse forensiese ondersoekeenheid se toegewyde werk het gelei tot die suksesvolle vervolging van George Maxwell Dundee in heelparty sake van huisbraak en diefstal. Talle ondersoeke teen hom is egter nog hangende.

Sers. Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die uitgebreide dossiere dateer terug tot 1980, toe hy nog nie 15 jaar oud was nie, en is toevertrou aan speursers. Mxolisi Tshona van dié eenheid.

“Deur noukeurige forensiese ontleding het hy vasgestel Dundee word deur DNS en vingerafdruk-bewysstukke verbind met meer as 20 onopgeloste sake dwarsoor Bloemfontein, Kimberley en Galeshewe.”

Speursers. Mxolisi Tshona. Foto verskaf

Die uitstaande sake sluit in huisbraak, diefstal, besit van gesteelde eiendom, regsverydeling en pogings tot moord. Van dié ondersoeke duur nog voort.

Dundee is eindelik op 21 Augustus gevonnis tot gesamentlik 20 jaar agter tralies nadat hy suksesvol verbind is met die volgende sake:

Op 22 Desember 2021 het ’n gesin van vakansie teruggekeer en vasgestel een van die huis se ruite was gebreek. Hoewel niks gesteel was nie, is Dundee deur forensiese bewysstukke met die voorval verbind.

Haval-voertuig gesteel

In min of meer dieselfde tydperk het ’n Bloemfontein-gesin teruggekeer van vakansie in die Oos-Kaap, net om op die toneel af te kom waar in hul huis in Bayswater ingebreek was. Hul Haval-voertuig en elektroniese toestelle was gesteel.

Wakker Petrusburg-beamptes het op 2 Januarie 2022 die gesteelde voertuig gesien en dit voorgekeer. Dundee is verbind met die inbraak en was ook in besit van dié motor en ander gesteelde ware. Hiervoor is hy vyf jaar tronk toe gestuur.

Op 23 Maart 2023 het ‘n inwoner in die Parkweg-polisiedistrik van sy werk af tuisgekom en vasgestel daar was ’n inbraak. Weer is elektriese toebehore gesteel. Dundee se vingerafdrukke is op die toneel gekry. Hy is vyf jaar opgelê vir hierdie misdryf.

Op 8 Augustus dieselfde jaar was ’n huiseienaar en sy seun onderweg huis toe vanaf Kaapstad toe ’n vriend hulle laat weet het daar was ’n inbraak in hul huis. Ook op hierdie toneel is bewyse gevind dat Dundee daar was, en vir dié voorval van huisbraak en diefstal is hy nog vyf jaar opgelê.

Terwyl Dundee sy vonnis uitdien, duur die forensiese ondersoeke voort na die ander voorvalle waarmee hy verbind word.

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.