Central SA
Vrou van Kathu weer in hof oor skool se geld─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Mon, 31 Aug 2026
’n Vrou wat daarvan beskuldig word dat sy miljoene rande by ’n Noord-Kaapse skool verduister het, kom Maandag (31/8) weer in die hof voor.
Jessica Kuhn (43), ’n voormalige finansiële administrateur by die Hoërskool Kathu, staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente. Dit is nog nie duidelik of sy weer om borgtog sal aansoek doen nie, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valkewoordvoerder.
Haar borgtogaansoek is op 7 Julie teengestaan nadat die Valke nuwe feite aan die hof voorgelê het. Die hof het daarna borgtog geweier. Die saak hou verband met die beweerde verduistering van R4,6 miljoen van die skool se geld. ’n Oudit wat in Oktober gedoen is, het glo finansiële onreëlmatighede aan die lig gebring.
Kuhn word daarvan beskuldig dat sy private bankrekeninge geskep het waarheen skoolgeld en skenkings oorgeplaas is. Die geld word onder meer gebruik om die salarisse van onderwysers te betaal wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is.
Mnisi sê Kuhn het na bewering fiktiewe fakture geskep wat voorgekom het asof dit van wettige skoolverskaffers afkomstig sou wees. Betalings is daarna glo na haar private rekening gemaak en tot haar eie voordeel aangewend.
“Sy het ook oortydbetalings aan haarself toegestaan, ondanks die skool se beleid wat sulke betalings verbied.” Kuhn is op 2 Julie by haar huis op Kathu deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem, met die ondersteuning van die afdeling vir ernstige georganiseerde misdaad.
Die Valke en die NVG het intussen ‘n suksesvolle aangesoek ingedien vir die bewaring van bates hangende die ondersoek, insluitend voertuie en ’n woonwa.
Genl.maj. Stephen Mabuela, provinsiale Valkehoof, sê die weiering van borgtog stuur ’n duidelike boodskap aan mense wat skole vanuit vertrouensposisies teiken.
“Ons skole is entiteite sonder winsoogmerk, maar verloor steeds aansienlike bedrae geld aan die hand van werknemers in hul finansiële kantore.”
OFM Nuus dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

