Central SA
Goudveldse egpaar se aansoek om appèl misluk─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:29 Fri, 28 Aug 2026
’n Goudveldse egpaar se aansoek om appèl is van die hand gewys.
Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie het Vrydag (28/8) in die Welkomse streekhof verskyn vir uitspraak in die saak wat al ses jaar sloer. Die egpaar is op 7 April skuldig bevind aan meer as ’n duisend aanklagte van intimidasie en crimen injuria.
Die volgende stap, indien hulle sou kies om voort te gaan, is om ’n petisie by die hooggeregshof in Bloemfontein in te dien. Landdros Marionette Kirsten sê sy is daarvan oortuig dat ’n ander landdros se bevinding nie van hare sal verskil nie, gegewe die erns van die dade.
Die saak spruit uit ’n jarelange vete met die sakebroers Manny en José Jardim. Die staat voer aan dat die egpaar oor ’n tydperk van etlike jare honderde dreigende boodskappe gestuur en graffiti met beledigende uitlatings en beskuldigings op brûe, padtekens en mure oor die Goudveld heen aangebring het.
Die Fouries is aanvanklik ook van poging tot moord aangekla nadat een van die Jardims se huise na bewering met ’n spykerbom aangeval en daarna geskiet is. Een van die koeëls het glo ’n kind rakelings gemis, maar dié aanklagte het nie deel gevorm van die uiteindelike skuldigbevinding nie.
Die staat beweer die beweerde teistering hou verband met vermoedens dat Manny Jardim die biologiese pa van die Fouries se oudste kind is. Die kwessie het herhaaldelik tydens die verhoor ter sprake gekom. Fourie het aanvanklik ’n DNS-toets geweier, later ingestem, maar dit nooit laat doen nie.

Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie by die hof. Foto: Charne van der Merwe
Getuienis oor dreigende telefoonoproepe, ’n beweerde motorjaagtog, geskille oor vee en selfoonboodskappe, wat volgens die staat vanaf ’n nommer gestuur is waartoe slegs die egpaar toegang gehad het, is ook aan die hof voorgelê. Fourie het die bewerings ontken en volgehou die staat se getuies is onbetroubaar is.
Die kind is gestremd en nadat die Fouries gevonnis is, het adv. Allen Simpson, die staatsaanklaer, gesê die egpaar gebruik sy toestand om ’n tronkstraf te probeer vermy. Die egpaar se getuienis het grootliks daarop gefokus om die toestand van hul gestremde kind as rede voor te hou waarom hy vrygelaat behoort te word.

’n Voorbeeld van die graffiti. Foto verskaf
Die kind drink steeds uit ’n bottel, dra doeke en het hulp nodig met basiese daaglikse take. Anna het getuig sy sukkel om alleen na hom om te sien omdat hy groter as sy is en sy hom nie maklik kan oplig of omdraai wanneer hy toevalle kry nie.
Die seun se toestand het glo versleg sedert sy pa in aanhouding is. Voorheen het hy ongeveer een epileptiese toeval per maand gekry; nou is dit glo tot drie per week. Hy verstaan nie waar sy pa is nie, het sy ma getuig, loop deur die huis op soek na hom, kyk by vensters uit en het ook meer hardkoppig geraak.
Die saak is oor die jare verskeie kere vertraag, onder meer weens veranderinge van regsverteenwoordigers, ’n versoek om ’n tolk en mediese redes. Simpson is ingevolge art. 38 van die NVG-wet aangestel om namens die vervolging op te tree.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

