Central SA
Tienerseun van Bloemfontein vermis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:23 Mon, 31 Aug 2026
’n Tienerseun word sedert Maandag (31/8) vermis, nadat hy laas in ’n veld naby sy huis gesien is.
Duan de Klerk (13) is omstreeks 06:30 laas in die Bloemdal-gebied op die gesin se kleinhoewe deur ’n werknemer gewaar. Hy het nie, soos gewoonlik, opgedaag om voor skool te eet nie, sê Sonja de Klerk, sy ma.
“Toe ek vra oor waar hy is, het ek gehoor dat hy ’n rukkie tevore in die veld naby die huis gesien is. Die werknemer het gesê Duan is steeds buite.”
De Klerk het dadelik na hom begin soek, maar kon hom nêrens opspoor nie. Sy sê daar was geen aanduiding dat haar seun sou weggaan nie. Sy is baie emosioneel oor sy verdwyning.
“Daar was wel ’n voorval verlede week wat moontlik die enigste rede kan wees waarom hy so iets sou doen, maar ek wil op hierdie stadium nie daaroor uitbrei nie.”

Duan, ’n leerder aan die Primêre Skool Universitas, is ongeveer 1,6 m lank en weeg sowat 67 kg. Hy het ’n blou trui, ligte kakie sweetpakbroek en grys tekkies aangehad toe hy laas gesien is.
Enigiemand met inligting oor waar Duan hom bevind kan De Klerk dringend by 079 594 4202 kontak.
Geen wagtydperk
Die Vrystaatse polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk voordat ’n persoon as vermis aangemeld kan word nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy/sy aangehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Vul die polisie se 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede, en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom of haar.
- As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. Die polisie se 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se geval uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

