On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Van ’n app-afspraak tot ’n troue: Kimberley-paartjie se liefdesverhaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:25 Mon, 31 Aug 2026

Van ’n app-afspraak tot ’n troue: Kimberley-paartjie se liefdesverhaal | News Article
Udine Cronjé en Arno Beukes het mekaar op Koer ontmoet. Foto verskaf

Dit het begin met ’n foto op ’n skerm, ’n bietjie nuuskierigheid en eenswiep na regs. Die res is geskiedenis.

Udine Cronjé (30) van Kimberley en Arno Beukes (35) van Kuruman het mekaar in 2023 op die afspraak-app Koer ontmoet. Wie sou kon dink dat dié eenvoudige druk van ’n knoppie eindelik tot ’n verlowing en ’n troue sou lei?

Die paartjie is sedert Maart verlede jaar saam, intussen verloof en sal binne die volgende twee maande afhaak. Udine het besluit om die app af te laai nadat sy deur ’n moeilike emosionele tyd gegaan het ná die dood van haar ouma in 2023.

Sy het gehoop om ’n bietjie afleiding te kry en het nie verwag dat sy haar lewensmaat daar sou ontmoet. Een van die eerste profiele wat haar aandag getrek het, was Arno s’n. 

Sy het nie twee keer gedink voordat sy regs geswiep het nie. “Hy was die mooiste en rooiste boerseun wat ek in ’n lang tyd gesien het.” 

Udine Cronjé en Arno Beukes trou in September. Foto verskaf

Arno se toetrede tot die afspraakwêreld was nie iets wat hy alleen besluit het nie. Dit was sy ma en suster wat hom oortuig het om Koer ’n kans te gee. “Jy weet nooit waar jy iemand gaan ontmoet nie,” sê Arno. 

Wat Udine se aandag aanvanklik getrek het, was Arno se rooierige hare, terwyl Arno op sy beurt deur Udine se glimlag en later haar persoonlikheid aangetrek is.

“Daar was net iets aan haar wat my laat dink het: ‘Ek wil hierdie persoon leer ken’,” vertel hy. Maar hier is waar hulle verhaal effens anders as die gewone afspraak-app-storie verloop.

Hoewel hulle in 2023 gematch het, het hulle nie dadelik op ’n eerste afspraak gegaan nie. Hulle het vir twee jaar lank mekaar gebel, gesels en eers vriende geword voordat hulle besluit het om mekaar persoonlik te ontmoet. 

Udine Cronjé spog met haar verloofring. Foto verskaf

In dié tyd het hulle selfs albei op ander Koer-afsprake gegaan en daarna hul ervarings met mekaar gedeel. Toe kom 8 Februarie verlede jaar. Arno het Kimberley toe gekom om Udine vir die eerste keer persoonlik te ontmoet. 

Hoewel daar aanvanklik natuurlik ’n bietjie senuwees was, het die ongemak vinnig verdwyn. “Dit het net gevloei,” vertel die verloofdes. 

Hul eerste ontmoeting het nie gevoel soos twee vreemdelinge wat vir die eerste keer ontmoet nie. Ná al die oproepe en gesprekke oor die twee jaar was daar reeds ’n gemaklikheid tussen hulle, amper asof hulle mekaar al jare geken het.

Udine Cronjé en Arno Beukes was eers net vriende. Foto verskaf

Nie lank daarna nie het die vriendskap in iets meer begin ontwikkel. Daar was nie een spesifieke oomblik waarop hulle besluit het dat dit liefde is nie. 

Dit het eerder stadig gebeur soos hulle meer tyd saam begin spandeer en besef het dat hulle nie net lekker saam kuier nie, maar dat hulle werklik bymekaar pas.

Hulle kon saam lag, maar ook deur moeilike tye werk en mekaar ondersteun. “Dit was toe ons besef het: ‘Hierdie is nie net ’n gewone verhouding nie. Hierdie kan my persoon wees.’”

Udine Cronjé en Arno Beukes trou op 26 September. Foto verskaf

Vir Udine lê die mooiste deel van hul verhouding nie in een groot gebeurtenis nie, maar in die alledaagse oomblikke wat hulle saam deel. “Die mooiste herinneringe is vir my die gewone dae – die dae waar ons net saam is, saam lag en besef hoe gelukkig ons is om mekaar te hê.”

Groot afspraak

As hulle terugkyk na waar alles begin het, glo hulle nie dat die app alleen verantwoordelik is vir hul suksesverhaal nie. “ ’n Afspraak-app kan twee mense aan mekaar voorstel, maar kan nie ’n verhouding laat werk nie. Dit is wat daarna gebeur wat saak maak.” 

Nou wag daar nog net een groot afspraak op die kalender: 26 September. Die dag waarop Udine en Arno uiteindelik vir mekaar “ja” sê.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel ofwhatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.