On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Lourierpark: DA vra hof om verlof tot appèl

───   12:24 Mon, 31 Aug 2026

Lourierpark: DA vra hof om verlof tot appèl | News Article
Die aanvanklike besetting van grond by Lourierpark en die formalisering van behuising hier bly ’n tameletjie. Foto: OFM Nuus

Die DA doen aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshof in Bloemfontein se vorige uitspraak oor die Lourierpark-grondbesetting.

Die hof het drie maande gelede beslis die Mangaung-metro kan voortgaan met voorbereidingswerk om mense te hervestig in Lourierpark en elders. Sedertdien het behuising opgeskiet in wat inwoners Mountain View noem nadat die hof die dringende DA-aansoek om die werk te stuit, met koste van die hand gewys het.

Die metro het die beslissing as ’n oorwinning beskryf vir mense sonder huise.

Die DA se aansoek om verlof tot appèl word Maandag (31/8) aangehoor. Werner Pretorius, wetgewerlid en Mangaung-burgemeesterskandidaat, sê hulle gaan voort met die saak ter wille van mense se reg op menswaardige behuising.

Die Lourierpark-ontwikkeling het al die gemoedere hoog laat hoop, onder meer oor die besluite oor wie erwe ontvang. Foto: DA

“Die DA gebruik hierdie proses om voort te gaan met die verdediging van regmatige ontwikkeling en die bevordering van menswaardigheid deur toegang tot betroubare basiese dienste en behoorlike beplanning vir alle inwoners wat geraak word deur die ANC-geleide metro se onverantwoordelike bestuur.”

Die party wil verseker dat behuisingstandaarde, soos voorgeskryf deur die Grondwet, gehandhaaf word. Dit word onregverdiglik beskou as ’n hindernis in die pad van behuising. “Die werklikheid in Lourierpark het egter die DA se standpunt bevestig: Mense is gevestig op oop grond met baie beperkte basiese dienste.”

Die DA het nooit toegang tot behuising teengestaan het nie. “Inteendeel, ons is gekant teen die uitbuiting van die groot behoefte aan behuising deur bloot toegang tot oop grond te bied, eerder as behuising wat op betroubare infrastruktuur gegrond is.” 

Infrastruktuur nodig

Dit sluit in:

  • Toegang tot skoon, lopende water.
  • Menswaardigheid deur behoorlike sanitasie.
  • Beskerming teen oorstromings wat huise en besittings verwoes.
  • Behoorlike toegangspaaie vir inwoners, nooddienste, vullisverwydering en wetstoepassing.
  • Straatligte en padveiligheidsmaatreëls om misdaad te ontmoedig.

“Ons beoog om hierdie basiese dienste te verseker vir inwoners van Lourierpark en die 57 informele nedersettings in Mangaung, waar toegang tot dienste al dekades lank weerhou word.

“Jare waarin die ANC gefaal het om te beplan, te begroot, nedersettings te verbeter, infrastruktuur te onderhou en betroubare dienste te lewer, het ’n reuse-behuisingsagterstand geskep.

“Oor die afgelope vier jaar het die ANC-geleide Mangaung ’n verstommende R340 miljoen van die Informele Nedersetting-verbeteringsfonds onbestee gelaat.”

Die DA sal voortgaan om deursigtigheid van die uitvoerende burgemeester en die administrasie te eis. 

“Inwoners moet weet wanneer dienste geïnstalleer gaan word, hoe dit betaal sal word, of alle goedkeurings gereed is, hoe begunstigdes gekies is, en watter maatreëls getref gaan word om sanitasie, vullisverwydering, stormwater, paaie en veiligheid te hanteer.”

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.