Central SA
Fourie-familie wag steeds op geregtigheid ná nóg ’n uitstel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Tue, 01 Sep 2026
Die familie van twee broers wat in Noordwes doodgeskiet is, sal waarskynlik nóg langer vir geregtigheid moet wag nadat die saak na verwagting weer vertraag sal word.
Robert Joubert (75) moet Dinsdag (1/9) in die streekhof in Potchefstroom verskyn. Die saak sal na verwagting egter nie voortgaan nie omdat sy regsverteenwoordiger, Christo Meiring, nie die verrigtinge kan bywoon nie, sê Johan le Grange, die Fourie-familie se prokureur.
“Die slagoffers se families wil hê die strafregtelike proses moet voortgaan sodat hulle uiteindelik antwoorde en geregtigheid vir Johnathan (52) en Deon Fourie (55) kan kry.” Joubert staan tereg op twee aanklagte van moord en een van poging tot moord nadat hy die broers glo op 10 November in die hoenderonderneming se raadsaal geskiet het.

Deon en Johnathan Fourie saam met hul pa, John. Foto verskaf
Johnathan is op die toneel dood, terwyl Deon sowat ’n maand later aan sy beserings beswyk het. Die broers was direkteure van Chubby Chick in Potchefstroom.
’n Veiligheidswag het Joubert na bewering tydens die skietvoorval in albei arms geskiet. Hy is sedertdien in aanhouding en ontvang glo ook behandeling vir ’n vergroeisel bo sy linkeroog by die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks.
Sy vorige hofverskyning op 1 Julie is ook uitgestel nadat hy vir ’n onkologiese ondersoek by die Klerksdorp/Tshepong-hospitaalkompleks was. Kanker is glo by hom gediagnoseer.

Robert Joubert. Foto: X
“Joubert het intussen ook ’n operasie gehad en word tans in die Klerksdorp-gevangenis aangehou. Hy kry blykbaar behandeling vir die oog by Tshepong-hospitaal,” sê Le Grange.
Die Fourie-familie het intussen vrae geopper oor die verloop van die saak nadat ’n dringende aansoek toegestaan is dat Joubert vir spesialisbehandeling na ’n privaat hospitaal oorgeplaas kon word.

Johnathan Fourie en sy vrou, Nadine. Foto: Facebook
Die aansoek is deur Joubert se broer, Joshua, gebring. Die hof het gelas dat alle mediese koste privaat betaal moet word, asook die redelike koste vir sy vervoer, aanhouding, toesig en veiligheidsmaatreëls tydens sy hospitaalverblyf.
Die hof het voorts beklemtoon die bevel kom nie neer op Joubert se vrylating uit aanhouding nie en dat dit ook nie die strafregtelike verrigtinge teen hom opskort of vertraag nie. Deon se seun, John Fourie, sê hy glo die aanval was doelgerig en vooraf beplan.

“Joubert se psigiatriese toestand hou ’n ernstige veiligheidsrisiko in indien hy nie onder maksimum-sekuriteitsomstandighede aangehou word nie,” sê John. Hy sê hy vrees vir sy eie veiligheid en dié van die oorlewende familielede.
Die Grondwet gee aan gevangenes die reg op voldoende mediese sorg, maar nie noodwendig private behandeling nie. “Die hofbevel skep die indruk dat verskillende standaarde geld vir beskuldigdes wat private sorg kan bekostig en dié wat nie kan nie.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
