Central SA
Uitspraak in Wilgehof-kleuterskoolmoorde uitgestel─── 14:14 Mon, 31 Aug 2026
Uitspraak word Woensdag gelewer in die driedubbele Wilgehof-moordsaak wat die gemeenskap van Bloemfontein geskok het.
Regter Corné van Zyl het die verrigtinge “in belang van geregtigheid” in die hooggeregshof in Bloemfontein uitgestel nadat dit nie Maandag hervat kon word nie.
Die liggame van Christo Theron (36), sy vrou, Janine (35), en haar ma, Betsie Kruger, eienaar van die Byenes-dagsorgsentrum, is net meer as drie jaar gelede in die kleuterskool in Van Heerdenstraat, Wilgehof, aangetref.
Hulle was vasgebind, aangerand, van verskeie besittings beroof en om die lewe gebring. Kruger het 60 kleuters in haar sorg gehad.

Betsie Kruger (voor, regs) by haar bejaarde ma, haar dogter Janine en skoonseun Christo Theron. Foto: Facebook
Mpheng Ntsoeu (29) en Katlego Moroe (25) staan tereg weens die moorde, asook op aanklag van roof en geldwassery. Hulle is meer as ’n jaar ná die voorval deur die Mangaung Metro Trio-taakspan in JB Mafora, Bloemfontein, in hegtenis geneem ná intensiewe ondersoekwerk.
Ntsoeu het voorheen vir Kruger gewerk, maar sy is ontslaan nadat sy glo ’n kleuter sleg behandel het. Sy het na bewering toegang tot die huis verkry en daarna Moroe, haar kêrel, ingelaat.
Ná die voorval is geld uit haar voormalige werkgewer se rekening oorgeplaas na Ntsoeu s’n. ’n Bankstaat toon R77 900 is na haar rekening oorbetaal en R69 480 na Moroe s’n.
Selfoontorings het die twee verdagtes met die moord verbind.

Mpheng Ntsoeu en Katlego Moroe tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: OFM Nuus
WhatsApp-boodskappe is destyds van Janine se foon af aan werknemers gestuur om hulle in te lig hulle moenie die volgende dag, die dag ná die moorde, werk toe kom nie. Ouers is ook in kennis gestel dat Byenes die volgende oggend gesluit sou wees en hulle dus nie hul kinders daarheen moes bring nie.
Die jongste uitstel volg nadat die prokureur wat die twee beskuldigdes tydens die aanvang van die verhoor verteenwoordig het, nie beskikbaar was nie. Van Zyl het verskoning gevra en gesê die uitstel is noodsaaklik ter wille van geregtigheid.
Die hof sou Maandag die slagoffer-impakverklarings van die families van die slagoffers aanhoor. Kaptein Jaques Wilson, die ondersoekbeampte, was saam met Kruger se twee seuns en Theron se seun in die hof.
Die staat word verteenwoordig deur advokaat Lucky Bondes.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
