On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gesin hoop om Bloemfonteinse man se glimlag terug te gee

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:25 Mon, 31 Aug 2026

Gesin hoop om Bloemfonteinse man se glimlag terug te gee | News Article
Gus saam met sy tweelingbroer, Hermann en sy vrou, Sumelle. Foto verskaf

’n Epileptiese toeval het sy glimlag verander – nou doen ’n Bloemfonteinse gesin alles in hul vermoë om dit terug te kry.

Gus Heymans (27) het tydens ’n epileptiese toeval op sy gesig geval en ’n voortand verloor. Sy ander tande is mettertyd ook beskadig, en hy het nou uitgebreide tandheelkundige behandeling nodig om weer behoorlik te kou. Die eerste twee fases kos byna R73 000.

Gus is een van vier kinders en volgens sy ma, Alecia, die “gom” wat die gesin bymekaarhou. Sy tandprobleme is mettertyd verder vererger deur die manier waarop hy sy medikasie moes inneem. Hy kan nie pille sluk nie en het dit voorheen in sy kies gehou totdat dit oplos, waarna hy dit met water of koeldrank ingesluk het.

Alecia het later begin om sy medikasie fyn te druk, maar sê van die medikasie bly steeds in sy mond agter en het volgens haar ’n groot invloed op sy tande gehad. Die verlies van sy tande raak Gus se daaglikse lewe, veral omdat hy sukkel om behoorlik te kou.

Gus saam met sy pa, Gustav, en ma, Alecia. Foto verskaf

Hy praat nie en kan slegs enkele woordjies sê, wat dit vir sy familie moeilik maak om te weet wanneer iets hom pla. “Hy het nou net die een voortand en hy het al redelik van sy ander tande verloor. So ja, daar’s maar min kouplek en dit beïnvloed sy daaglikse lewe redelik,” sê Alecia.

Tandheelkundige behandeling is egter ’n besondere uitdaging vir Gus, wat outisties is. Hy sit nie maklik in ’n tandartsstoel nie en raak veral angstig wanneer hy ’n naald sien. Hy moes al teater toe gaan om tande te laat trek wat nie meer gered kon word nie. ’n Afgetrede narkotiseur het hom in die verlede ook twee keer in die tandartsstoel onder narkose behandel sodat daar aan sy tande gewerk kon word.

’n Vorige besoek aan die tandarts het selfs vereis dat verskeie mense hom moes help vashou om bloot ’n drup in te kry. “Dit is maar ’n vreeslike groot uitdaging,” sê sy. Die gesin probeer hom daarom nie te lank voor die tyd op moeilike besoeke voorberei nie, omdat hy maklik angstig en ooropgewonde kan raak.

Gus se oudste broer, Ruben Heymans, sy tweelingbroer Hermann, Gus en sy suster, Janke Jacobs. Foto verskaf

“Die voorbereiding is maar op die nippertjie om nou nie te veel senuwees te veroorsaak nie,” sê Alecia. Gus se behandeling sal in verskillende fases plaasvind.

“Die eerste twee chirurgiese fases beloop altesaam R72 955,94 en sluit die plasing van twee implantate, been- en sagteweefselvergroting, chirurgiese prosedures en die nodige implantaatmateriaal in.


Die tweede fase behels die chirurgiese blootlegging van die implantate, verdere sagteweefselbehandeling en ’n opvolgbeoordeling. Daarna sal ’n prostodontiese fase nog nodig wees.

’n Plaatjie is nie egter nie vir hom ’n geskikte opsie nie, aangesien hy dit waarskynlik uit sy mond sal haal en moontlik kan insluk. Die implantate sal daarom gebruik word om ’n permanente tandheelkundige oplossing te ondersteun.

Gus se tandprobleme het vererger deur die manier waarop hy sy medikasie moes inneem. Foto verskaf

Die gesin het ’n hospitaalplan, maar dit dek nie die koste van die materiaal, implantate en skroewe nie. Daar is ook ’n bybetaling vir die daghospitaal. “Dit is vir ons ’n groot finansiële impak,” sê Alecia.

Die behandeling kan nie net gedeeltelik voltooi word nie, omdat die verskillende fases op mekaar volg. Sommige van Gus se tande het reeds absesse veroorsaak wat eers behandel en verwyder moet word voordat die proses kan voortgaan. Vir Alecia is een van die moeilikste aspekte dat sy nie altyd weet wanneer Gus pyn het nie.

Gus is een van vier kinders en volgens sy ma, Alecia, die “gom” wat die gesin bymekaarhou. Foto verskaf

“Hy praat nie en ons is nie altyd bewus of hy pyn het of nie,” sê sy. Gus wys dikwels dat iets verkeerd is deur sy klere te skeur. Wanneer hy ná ’n dag by die skool of dagsorg by die huis kom en sy klere is in flarde, weet sy familie dat iets hom moontlik pla.

Maar vir sy gesin is Gus veel meer as sy outisme of sy tandprobleme. Hy is een van ’n tweeling, en Alecia beskryf hom as ’n liefdevolle mens met ’n skerp sin vir humor wat graag mense omhels, terg en saam met hulle giggel.

“Gus hou ons as gesin baie humble en daarom lê mense met enige vorm van gestremdheid ons na aan die hart,” sê Alecia. Hulle was nog nooit skaam vir Gus nie, hoewel sy impulsiewe optrede hulle soms ongemaklik kan laat voel.

Hulle bid steeds elke dag vir sy spraak. Alecia glo daar is baie frustrasie omdat hy verstaan wat rondom hom aangaan, maar dit nie altyd kan verwoord nie. Nou hoop die gesin om hom ná die behandeling weer met ’n volmond tande te sien.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.