Central SA
Nagtelike kitsbank-ontploffings ruk Lindley─── 15:31 Mon, 31 Aug 2026
Inwoners van Lindley gaan nog lank gesels oor ’n nagtelike bomaanslag op ’n kitsbank reg oorkant die kerk in die middedorp.
Erik Pienaar, ’n plaaslike sakeman, vertel sy vrou het hom wakker gemaak ná die eerste ontploffing omstreeks 01:30. “Ek het gedink ek droom dit. Haar woorde was nog nie koud nie, toe hoor ons die ander ontploffings, omtrent so vyf tot sewe binne tien minute.”
Hulle woon sowat vier blokke van die FNB-OTM, wat 200 meter van die polisiekantoor af is.
Sy eerste gedagte was dit is moontlik veroorsaak deur gasbottels in ’n brand, want dit was beslis nie geweerskote nie. So hard was die geluid dat ’n boer 5 km uit die dorp dit kon hoor.

Stukke van die geldmasjien en die gebou het ná die aanslag gesaai gelê oor die straat. Foto verskaf
“Dit was verskriklik. Almal in die dorp het dit gehoor. Ek het nog nooit so-iets beleef nie.”
Hy het gaan ondersoek instel, en op die toneel afgekom waar die geldmasjien opgeblaas was. Stukke muur en masjien het versprei oor die straat gelê. Daar was reeds ’n polisievoertuig op die toneel. Hy vermoed die “bomplanters” sou vir seker met geld weggekom het.
Op beeldmateriaal van sekerheidskameras in die plaasomgewing kan glo gesien word hoe ’n Audi met ’n GP-nommerplaat uit die omgewing wegjaag.
Die DA in Nketoana het die polisie gevra om vinnig en beslissend op te tree om die skuldiges aan te keer.
Woordvoerder Anelia Smit sê Lindley is ’n klein en vreedsame dorpie waar inwoners al vir baie jare in harmonie saamleef. “ ’n Voorval van hierdie aard wek groot kommer en dis verstaanbaar dat dit die gemeenskap angstig en vreesbevange maak.”
Die gevolge van die voorval strek verder as net die toneel van verwoesting. “Baie inwoners, veral bejaardes en Sassa-toelaagbegunstigdes, is afhanklik van plaaslike OTM’e om pensioene en toelaes te trek vir hul daaglikse behoeftes.
“Enige ontwrigting van OTM-dienste kan groot ongerief en swaarkry veroorsaak vir kwesbare inwoners.”
Die ekonomiese impak op ’n dorpie soos Lindley moet ook nie onderskat word nie. “Plaaslike ondernemings is afhanklik van inwoners en besoekers wat toegang het tot bankdienste en kontant om ekonomiese aktiwiteit te ondersteun.
“Ontwrigting van hierdie dienste kan dus individuele inwoners, plaaslike winkels, ondernemings en die breër ekonomie raak.”
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

