On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse gesin in hof oor beweerde bedrog met diesel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:36 Tue, 01 Sep 2026

Vrystaatse gesin in hof oor beweerde bedrog met diesel | News Article
Pieter en Elizabeth Smit. Foto verskaf

’n Vrystaatse egpaar en hul twee seuns sal op 16 September weer in die hof verskyn in verband met ’n beweerde bedrogsaak van byna R1 miljoen.

Pieter Smit (63), sy vrou, Elizabeth (62), en hul seuns, Marnu en Estiaan, is Maandag (31/8) in die Hoopstad-landdroshof op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die vier word aangekla van bedrog, diefstal en geldwassery, sê ao. Fikiswa Matoti, Valke-woordvoerder.

Die saak is uitgestel vir die beskuldigdes om ’n regsverteenwoordiger te kry.

Die staat beweer die gesin het tussen 2017 en 2022 die R700 Truck Stop op Hoopstad uit sowat R940 000 bedrieg. Die onderneming, wat diesel aan boere lewer, is deur die klaer gekoop, waarna hy die bestuur daarvan aan Pieter toevertrou het omdat hy reeds vertroud was met die onderneming se bedrywighede.

“Die beweerde bedrog het aan die lig gekom nadat die eienaar ’n daling in die onderneming se wins begin waarneem het,” sê Marisa Lötter van Lötter & Associates in Hoopstad aan OFM Nuus. Sy ondersoek die saak al byna drie jaar.


Die Valke het die saak ondersoek op versoek van die eienaar, en glo verskeie verdagte transaksies blootgelê. “Daar word beweer kliënte se besonderhede is in sekere transaksies gebruik, terwyl die geld na bankrekeninge gekanaliseer is wat nie aan hulle behoort nie. 

“Die ondersoek het ook gewys sommige kliënte het vir diesel betaal, maar nooit hul bestellings ontvang nie,” sê Matoti.

In ’n ander bedrogsaak bly ’n Noord-Kaapse vrou agter tralies tot 6 Oktober nadat sy glo miljoene rande by ’n skool verduister het. Jessica Kuhn (43), ’n voormalige finansiële administrateur van die Hoërskool Kathu, het Maandag (31/8) weer in die plaaslike landdroshof verskyn.

Vrou van Kathu weer in hof oor skool se geld | News Article

Jessica Kuhn. Foto verskaf

Sy staan tereg op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente. Dit is nog nie duidelik of sy weer om borgtog sal aansoek doen nie, sê ao. Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder.

Haar borgtogaansoek is op 7 Julie teengestaan nadat die Valke nuwe feite aan die hof voorgelê het. Die hof het daarna borgtog geweier. 

Die saak hou verband met die beweerde verduistering van R4,6 miljoen van die skool se geld. ’n Oudit wat in Oktober gedoen is, het glo finansiële onreëlmatighede aan die lig gebring.

Kuhn word daarvan beskuldig dat sy private bankrekeninge geskep het waarheen skoolgeld en skenkings oorgeplaas is. Die geld was onder meer geoormerk vir die salarisse van onderwysers wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is.

Mnisi sê Kuhn het na bewering fiktiewe fakture geskep wat gelyk het asof dit van wettige skoolverskaffers kom. Betalings is daarna glo na haar private rekening gemaak en tot haar voordeel aangewend.

“Sy het ook oortydbetalings aan haarself toegestaan, ondanks die skool se beleid wat sulke betalings verbied.”

Sy is op 2 Julie by haar huis op Kathu deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem, met die ondersteuning van die afdeling vir ernstige georganiseerde misdaad.

Die Valke en die NVG het intussen ’n suksesvolle aansoek ingedien vir die bewaring van bates hangende die ondersoek, insluitend voertuie en ’n woonwa.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.