On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Wreedheid teenoor lammers skok Vrystaatse landbougemeenskap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:32 Tue, 01 Sep 2026

Wreedheid teenoor lammers skok Vrystaatse landbougemeenskap | News Article
Dr. Jane Buys sê veediefstal is ’n vorm van georganiseerde misdaad. Foto verskaf

Die wreedheid teenoor lammers tydens ’n beweerde veediefstalvoorval wek ernstige kommer onder Vrystaatse landbouers.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou, sê die voorval by Steynsrus is besonder kommerwekkend, veral weens die trauma wat die voorval vir die boer en die breër boerderygemeenskap veroorsaak.

“Die wreedheid waarmee hierdie misdaad gepleeg is en die slagting van die lammers, toon net die uiterste minagting wat daar vir die boer en die gemeenskap as geheel is.”

Die voorval het Vrydag (28/8) in die vroeë oggendure op Rietvlei-plaas plaasgevind, waar 45 skape, 16 SA Vleismerino-ooie en 29 SA Vleismerino-lammers, gesteel is.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou. Foto verskaf

Die boer, Frederick Joubert (54), het die aanvanklike veetelling op die betrokke dag gedoen. “Daar was 186 skape, maar die volgende dag was daar slegs 69 ooie en 72 lammers oor. Die vermiste skape se gesamentlike waarde word op sowat R151 000 geraam,” sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Joubert en ’n buurman het Saterdagoggend (29/8) na bewering ’n bloedspoor deur die veld gevolg. Verskeie lammers is langs die Steynsrus-Arlington-grondpad aangetref nadat hul kele afgesny is en hulle in die veld gelos is. Uit frustrasie oor die situasie het Joubert die dooie lammers later na die plaaslike polisiekantoor geneem en daar afgelaai. 

Buys sê die voorval beklemtoon waarom veediefstal nie as ’n gewone eiendomsmisdaad beskou moet word nie.


“Veediefstal is in werklikheid ’n gewelddadige misdaad wat op ’n georganiseerde wyse deur misdadigers gepleeg word,” sê sy. “Verdagtes is dikwels met gevaarlike wapens of vuurwapens toegerus, wat die risiko vir boere en landelike gemeenskappe verder verhoog.”

Sy sê veediefstal is ’n groot bekommernis vir boerderygemeenskappe in al die distrikte van die Vrystaat. “Tussen 54% en 60% van eiendomsverwante misdaad by sommige plattelandse en landelik-stedelike polisiekantore hou met veediefstal verband.”

“Veediefstal is ook nie ’n nuwe verskynsel nie, maar ’n vorm van georganiseerde misdaad wat oor dekades heen deur misdaadgroepe en sindikate beplan en uitgevoer word.” Sy sê die impak strek ook veel verder as die prys wat ’n boer vir ’n enkele dier betaal het.

Die Vrystaatse landbougemeenskap se jaarlikse verlies weens veediefstal word tussen R1 miljard en R3 miljard geskat. Foto verskaf

“Dit gaan ook oor die genetika. Dit gaan ook oor die teling van daardie dier wat van die boer weggeneem word. Vorige opleiding van veediefstalspeurders en aanklaers in die Vrystaat het ook die omvang van die finansiële impak van veediefstal beklemtoon. “

Volgens haar kan die werklike verlies vir ’n boer meer as 100% van die dier se oorspronklike waarde beloop wanneer faktore soos genetika en toekomstige teling in berekening gebring word.

Die Vrystaatse landbougemeenskap se jaarlikse verlies weens veediefstal word tussen R1 miljard en R3 miljard geskat. Veediefstal word volgens Buys nie net as ’n eiendomsverwante misdaad beskou nie. “Veediefstal is in werklikheid ’n gewelddadige misdaad,” sê Buys.

Verskeie gesteelde lammers is gevind met hul kele afgesny. Foto verskaf

Sy waarsku verder dat veediefstal dikwels met ander vorme van georganiseerde misdaad verbind kan word. “Sommige verdagtes wat by veediefstal betrokke is, is ook betrokke by ander misdade, soos koperdiefstal, diefstal van transformators, huisbrake en motordiefstal,” sê sy.

“Die polisie behoort taakspanne en projek gedrewe ondersoeke in te stel wat nie net op individuele veediefstalsake fokus nie, maar ook moontlike verbande tussen verdagtes en ander misdade in landelike gebiede ondersoek.”

“Die wreedheid waarmee dit uitgevoer is, hou groot gevaar vir boere en boerderygemeenskappe in die Vrystaat in.” 

Vrystaat Landbou doen ’n beroep vir die implementering van die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie, asook voldoende polisiekapasiteit wat personeel, voertuie en toerusting betref, om landelike gemeenskappe beter te beskerm.

Die Steynsrus-saak word intussen deur Heilbron se Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid ondersoek nadat ’n veediefstalsaak by die Steynsrus-polisiekantoor geopen is.

Enigiemand met inligting kan ao. Henry Greeff by 082 627 7577 bel. Inligting kan ook anoniem aan Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-app deurgegee word.

 OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

•Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.