Central SA
Parkeerterrein-moordsaak: Aansoek kom om beskuldigde vry te spreek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:40 Tue, 01 Sep 2026
In ’n wending op die tweede dag van die moordverhoor drie jaar nadat ’n man in die parkeerterrein van ’n Klerksdorp-kuierplek doodgeslaan is, wil die verdediging aansoek doen dat die beskuldigde vrygespreek word.
Wernich Botha het Dinsdag (1/9) weer in die streekhof in Klerksdorp voorgekom. Hy word aangekla van die moord op Hilton Pretorius (32) byna drie jaar gelede in die parkeerterrein van Cadillac’s ’60s Pub.
Die staat het sy saak afgesluit nadat dr. Charles Mgone Maandag (31/8) die getuiebank ingeneem het. Hy is ’n neurochirurg wat Pretorius by die Klerksdorp-Tshepong-hospitaalkompleks behandel het.
Botha se regspan gaan nou ’n aansoek ingevolge Artikel 174 indien, sê Kobus Burger, sy regsverteenwoordiger. Die verdediging vra die hof om Botha onmiddellik vry te spreek sonder dat hulle self enige getuies hoef te roep.
Hulle voer aan die staat se getuienis bied geen gronde vir ’n skuldigbevinding nie. Botha ontken skuld; sy verweer is hy het uit selfverdediging opgetree. Die hof sal na verwagting Maandag (7/9) uitspraak lewer oor die aansoek.
As die aansoek slaag, word Botha onskuldig bevind en stap hy as ’n vry man uit die hof. Indien dit van die hand gewys word, moet die verdediging met hul saak voortgaan en kan Botha moontlik self getuig.
Die voorval het ontstaan nadat Botha sy destydse meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), saam met Pretorius in die bed in haar huis betrap het. Tydens die verhoor in Mei het Natasha getuig Botha het onverwags op 1 September uit Somalië teruggekeer en Pretorius by haar huis gekry.

Hilton Pretorius se familie. Foto: Charne van der Merwe
Volgens haar getuienis het Botha Pretorius aangerand terwyl hy geslaap het, wat gelei het tot ’n konfrontasie wat in die straat en later by die kroeg, waar die noodlottige voorval plaasgevind het, voortgeduur het.
Pretorius het regdeur die dag van 2 September dreigboodskappe aan Botha gestuur. Hy het in minstens vyf van daardie boodskappe gesê hy het “niks meer om te verloor nie”, Botha direk gedreig en gesê hy “kom vir Botha”.
Die voorval het later daardie middag plaasgevind. Botha staan ook tereg op ’n aanklag van poging tot moord op PW Roos.

Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe (née Fischer). Foto: Facebook
Tydens die vorige hofverskyning in Mei het Roos egter saam met die verdediging gestem dat Botha slegs uit selfverdediging opgetree het. Roos het toe die getuiebank verlaat, Botha se hand geskud en om verskoning gevra. Hy het die staat versoek om hom nie te vervolg nie.
Die ernstige breinskade wat Pretorius opgedoen het, asook die daaropvolgende agteruitgang in sy toestand, is Maandag in die hof bespreek. Mgone het getuig Pretorius is ná die beweerde aanranding met ’n ernstige traumatiese breinbesering en bloeding in die brein in die hospitaal opgeneem.
Hy moes ’n noodoperasie ondergaan om die druk op sy brein te verminder en is daarna intensief behandel. Hoewel sy toestand later genoegsaam gestabiliseer het om hom na die hoësorgeenheid oor te plaas, het hy reeds aan ’n infeksie en longontsteking gely. Sy toestand het kort daarna versleg en hy het respiratoriese nood ontwikkel.

Veranderinge in Pretorius se pupilreaksie en ander kliniese tekens het glo daarop gedui dat hy verdere breinstamskade opgedoen het. Die dokter het verder getuig dit was nie tydens Pretorius se hospitalisasie duidelik of hy sou herstel of weer normaal sou kon funksioneer nie.
Linda Mey, Pretorius se ma, sê die grootste verlies bly steeds die leemte, die “onmenslike groot gat’ in hul lewens. “Dis swaar, en moeilik en oor en oor beleef en herleef ons elkeen op sy eie hierdie onmoontlike verlies.
“Ons bly by God. Mag ons ook in hierdie tyd naby Hom lewe. Dis met groot dankbaarheid dat ek elke persoon bedank wat ons bymekaar gehou het en ons nog steeds ondersteun.”
Pretorius sou op 18 Augustus 35 jaar oud geword het.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 4871427.

