On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Lindley-bomaanslag: Polisie soek vyf in Audi

───   14:42 Tue, 01 Sep 2026

Lindley-bomaanslag: Polisie soek vyf in Audi | News Article
Stukke van die geldmasjien en die gebou het ná die aanslag oor die straat gesaai gelê. Foto verskaf

Die Eenheid vir Ernstige en Gewelddadige Misdaad in die Vrystaat is op soek na minstens vyf verdagtes nadat ‘n kitsbank in Lindley opgeblaas is.

Lindley-polisiebeamptes was Maandagoggend (31/8) besig met hul pligte toe hulle omstreeks 01:25 drie harde ontploffings gehoor het. Drie ooggetuies het die polisiekantoor binnegestorm en die voorval aangemeld, sê lt.kol. Thabo Covane, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die beamptes het vasgestel die geluide was van ’n OTM wat naby ’n vulstasie opgeblaas is. “Die toneel is beveilig en rolspelers ontbied.”

Volgens ’n getuie is minstens vyf verdagtes naby die OTM gesien tydens die voorval. Hulle het in ’n blou Audi-motor, nommerplaat KT 71 VL GP, gevlug.

Die slag van die ontploffings kon tot 5 km ver gehoor word. Foto verskaf

Erik Pienaar, ’n plaaslike sakeman, het vroeër vertel sy eerste gedagte was die plofgeluide is moontlik veroorsaak deur gasbottels in ’n brand, want dit was beslis nie geweerskote nie. So hard was die geluid dat ’n boer 5 km uit die dorp dit kon hoor.

Hy het gaan ondersoek instel, en op die toneel afgekom waar die geldmasjien opgeblaas was. Stukke muur en masjien het versprei oor die straat gelê. Daar was reeds ’n polisievoertuig op die toneel. Hy vermoed die “bomplanters” sou vir seker met geld weggekom het.

“Dit was verskriklik. Almal in die dorp het dit gehoor. Ek het nog nooit so-iets beleef nie.”

Groot ongerief veroorsaak

Die DA in Nketoana het die polisie gevra om vinnig en beslissend op te tree om die skuldiges aan te keer.

Die party sê die gevolge van die voorval strek verder as net die toneel van verwoesting. Baie inwoners, veral bejaardes en Sassa-toelaagbegunstigdes, is afhanklik van plaaslike OTM’e om pensioene en toelaes te trek vir hul daaglikse behoeftes.

Enige ontwrigting van OTM-dienste kan groot ongerief en swaarkry veroorsaak vir kwesbare inwoners.

Ondernemings is afhanklik van inwoners en besoekers wat toegang het tot bankdienste en kontant om ekonomiese aktiwiteit te ondersteun.

’n Saak van kwaadwillige saakbeskadiging en die oortreding van die plofstofwet word ondersoek.

Die publiek word versoek om enige inligting deur te gee na kol. Msokoli Bolsiek by 082 466 8530, of via die MySAPS-app of die polisie Stopmisdaadnommer, 08600 10111.

OFM Nuus sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.