On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse Spar belowe optrede ná voorval met blinde klant en gidshond

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:24 Wed, 02 Sep 2026

Bloemfonteinse Spar belowe optrede ná voorval met blinde klant en gidshond | News Article
Jacques en sy gidshond, Jazz. Foto verskaf

’n Gidshond behoort nooit die rede te wees waarom ’n blinde klant se toegang tot ’n winkel bevraagteken word nie.

Stappe word nou gedoen om te verseker dat ’n soortgelyke voorval nie weer gebeur nie. Jacques de Bruyn (35) en sy gidshond, Jazz, is Sondag (30/8) by Gardenia Park Spar deur twee veiligheidswagte voorgekeer wat geweier het om die hond in die winkel toe te laat.

“Dit was ’n baie onaangename situasie, maar ek hoop dit sal groter begrip skep vir die belangrike rol wat gidshonde speel in die onafhanklikheid van mense met siggestremdhede,” sê De Bruyn.

Hy en sy vriendin, Shané Fourie (33), was kort ná 13:00 by die winkel toe die twee wagte voor hulle gaan staan en volgens De Bruyn op ’n aanvallende manier gesê het: “Diere word nie toegelaat nie.”

Jazz, die gidshond. Foto verskaf

Die paartjie het probeer verduidelik Jazz is nie bloot ’n troeteldier nie, maar ’n gidshond wat De Bruyn help om onafhanklik te beweeg. “Een van die veiligheidswagte het in ’n stadium vir my gesê ‘jy kán sien’, en herhaaldelik ‘ ’n hond is ’n hond’.”

Die situasie het verder gespanne geraak toe een van die wagte na Jazz se harnas wou gryp en Shané sy hand moes wegstoot. Die paartjie het herhaaldelik gevra om met die bestuurder te praat, voordat hy eindelik na hulle toe gekom het.

De Bruyn het die situasie aan die bestuurder verduidelik. Hy het ingegryp en hulle toegelaat om met hul inkopies voort te gaan. “Die bestuurder het gesê Jazz kan die winkel binnegaan, maar dat hy van die kos weggehou moet word sodat hy aan niks ruik nie.” Die bestuurder het glo ook aan die wagte verduidelik gidshonde word wel toegelaat.


Mpudi Maubance, Spar-woordvoerder, sê die bestuurder het ingegryp die oomblik toe die voorval onder sy aandag gebring is. Gardenia Park Spar is ’n onafhanklike winkel, en die sekerheidsdiens word gelewer deur ’n onafhanklike diensverskaffer.

Volgens die winkelgroep is die voorval met die diensverskaffer bespreek, en is personeel weer herinner aan die korrekte hantering van klante met gestremdhede. Spar hersien ook die bewusmaking van winkel- en veiligheidspersoneel en leiding wat aan hulle verskaf word, met die doel om soortgelyke voorvalle te voorkom.

Die groep beklemtoon klante met gestremdhede, wat op gidshonde of ander opgeleide bystandshonde staatmaak, is welkom in sy winkels. “Hierdie honde verskaf noodsaaklike ondersteuning en behoort nie as troeteldiere gehanteer te word nie.”

Jacques is ook 'n para-atleet wat vir die Vrystaat deelneem. Foto verskaf

Spar sê sy diensriglyne vereis dat personeel direk met die klant kommunikeer, toestemming vra voordat hulp aangebied word en die persoon se onafhanklikheid ten alle tye respekteer. Personeel moet ook nie ’n werkende gidshond se aandag aftrek of op enige manier daarmee inmeng nie.

“Personeel en kontrak-veilgheidspersoneel ontvang opleiding van hul onderskeie werkgewers. Die winkelgroep hersien ook die riglyne saam met die sekerheidsdiensverskaffer,” sê Maubance.

Die winkelbestuurder het die paartjie later weer om verskoning gevra. Een van die wagte het sy voorbeeld gevolg en hulle later by die motor genader toe hulle op pad huis toe was. Hy het gevra of hy vir hulle iets kon koop.

“Ek gee nie om om gevra te word hoekom ek ’n hond by my het nie, maar dit gaan oor hoe mense dit benader. Jazz is veel meer as net ’n hond wat my vergesel wanneer ek inkopies doen.”

De Bruyn is met Stargardt-siekte gebore, ’n genetiese oogtoestand wat progressiewe verlies aan sentrale sig veroorsaak. Hy het teen die ouderdom van nege begin om sy sig te verloor. Namate sy sig verswak het, het hy al hoe meer teen mense en voorwerpe vasgeloop.

Hy het daarna by die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging aansoek gedoen en ’n paar maande later vir Jazz gekry. Jazz is nou al drie jaar deel van sy lewe en gaan elke dag saam met hom werk toe.

Jacques en Shané Fourie. Foto verskaf

“Hy weet presies waar my kantoor is vanwaar die drywer my aflaai en vat my direk soontoe,” sê hy. “Jazz het my hele lewe verander en is amper 24 uur ’n dag by my.”

Vir De Bruyn is onafhanklikheid baie belangrik, en hy en sy hond het drie jaar lank alleen gewoon voordat hy Fourie ontmoet het. Buiten sy werk is hy ook ’n para-atleet wat vir die Vrystaat deelneem. Hy is ook voorheen vir die Suid-Afrikaanse para-atletiekspan gekies vir die wêreldkampioenskappe.

Hy studeer tans om ’n persoonlike afrigter te word. Hy laat sy sig nie toe om hom terug te hou nie en spits hom toe op dissipline.

Dit is egter die eerste keer dat ’n situasie rondom Jazz so geëskaleer het, en De Bruyn voel mense verstaan nie altyd wat ’n gidshond is of waarom die hond saam met sy hanteerder moet wees nie.

Hy glo groter bewusmaking is nodig, nie net onder veiligheidspersoneel nie, maar ook in skole, maatskappye en ander werksomgewings. “Ek voel dat hierdie soort bewusmaking as deel van opleiding in enige formele werksomgewing ingesluit moet word.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.