On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

AfriForum vat Noordwes-munisipaliteit vas oor onwettige storting

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:35 Sat, 05 Sep 2026

AfriForum vat Noordwes-munisipaliteit vas oor onwettige storting | News Article
Die vullis en ontbindende dierekarkasse hou ’n wesenlike gevaar vir die omgewing en gemeenskap in. Foto verskaf

’n Organisasie het ’n Noordwes-munisipaliteit tot Maandag (7/9) gegee om die onwettige storting op te ruim, of teen dié datum ’n skriftelike aksieplan vir die opruiming van die terrein voor te lê.

AfriForum se Klerksdorp-tak se beroep op die Matlosana-munisipaliteit om die onwettige storting van vullis langs die Orkney-pad op te ruim, is steeds onbeantwoord. Die storting duur steeds onverpoosd voort. 

“Die burgerregteorganisasie eis dringende optrede van dié munisipaliteit binne die volgende twee dae,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Oortreders

Die munisipaliteit moet die terrein formeel inspekteer en die omvang van die storting dokumenteer, afval en karkasse dringend en volgens die toepaslike wetgewing verwyder. 

Voorkomingsmaatreëls (waaronder waarskuwingstekens, monitering en behoorlike wetstoepassing) moet ingestel word om verdere storting te voorkom. AfriForum dring ook aan dat oortreders van onwettige storting geïdentifiseer word. 

Die terrein is in ’n haglike toestand. Foto verskaf

AfriForum het die munisipaliteit reeds in April skriftelik in kennis gestel van die onwettige storting van huishoudelike afval, bourommel en selfs dierekarkasse op ’n terrein by die Ysterspruit-aansluiting buite Orkney. Die munisipaliteit het egter nog nie op dié skrywe gereageer of die terrein opgeruim nie.

“Die versuim om die terrein op te ruim kom ook ondanks die munisipaliteit se plan vir die samestelling van ’n toegewyde taakspan om onwettige stortings te teiken. Luidens dié plan, soos uiteengesit in die munisipaliteit se finansiële herstelplan wat reeds in Augustus verlede jaar opgestel is, sou bestaande personeel vir dié skoonmaakspanne gebruik word,” sê Pretorius.

Verleentheid

“Die vullis en ontbindende dierekarkasse hou ’n wesenlike gevaar vir die omgewing en gemeenskap in. Die afval kan die spruit en moontlike grondwaterbronne besoedel, siektes versprei, ongediertes lok en omliggende landbougrond en natuurlike ekostelsels benadeel.

“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit steeds geen sigbare stappe gedoen het om die terrein op te ruim nie. Hierdie gemors is nie net ’n onooglike verleentheid nie – dit hou ’n direkte bedreiging vir mens, dier en die omgewing in,” sê sy. 

SW Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, meen die munisipaliteit het ’n kritieke verantwoordelikheid wat nagekom moet word. “Die Matlosana-munisipaliteit kan nie bloot sy verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en die omgewing ignoreer nie. Indien die munisipaliteit weer versuim om teen die sperdatum op te tree, sal AfriForum verdere stappe oorweeg om verantwoording te verseker.”

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.