On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Motordiefstal in Kimberley neem toe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:02 Sun, 06 Sep 2026

Motordiefstal in Kimberley neem toe | News Article
Maak seker al jou deure is gesluit voordat jy inkopies gaan doen. Foto ter illustrasie: iStock

Motoriste word gewaarsku om ekstra waaksaam te wees nadat verskeie voorvalle van voertuig­diefstal aangemeld is.

Voertuie ter waarde van meer as R4 miljoen is glo binne drie dae in Kimberley gesteel. “Die polisie volg alle leidrade op om die verdagtes te identifiseer en in hegtenis te neem,” sê ao Molefi Shemane, provinsiale polisiewoordvoerder.

’n Toyota Land Cruiser is Woensdag (2/9) by ’n winkelsentrum se parkeerterrein in Kimberley gesteel. Twee Ford-voertuie, ’n Ford Ranger Wildtrak en ’n Ford Raptor, is ook Vrydag (4/9) by ’n winkelsentrum gesteel.

“Die polisie het inligting ontvang dat ’n man en vrou moontlik in winkelsentrums se parkeerterreine rondbeweeg en seinblokkeertoestelle gebruik om voertuigeienaars se afstandbeheerstelsels te ontwrig,” sê Shemane.


“Voertuigeienaars moet seker maak dat al die deure gesluit is voordat hulle wegstap,” sê Shemane. Die waarskuwing kom te midde van ’n verwagte toename in besoekers aan Kimberley dié naweek. 

Die Yonder Hartsfees het Donderdag (3 /9) begin en duur tot Sondag (6/9) terwyl die Suzuki Griquas ook Sondag om 13:00 in die Curriebekerhalfeindstryd teen die Fidelity ADT Lions by die Suzuki-stadion speel.

Met groter getalle mense wat by winkelsentrums, sportgronde en feeslokale verwag word, word inwoners en besoekers gevra om waaksaam te bly en die nodige voorsorgmaatreëls te tref.

Waardevolle items

“Motoriste word ook gemaan om nie waardevolle items soos skootrekenaars, handsakke en elektroniese toestelle sigbaar in voertuie te los nie.” 

Die polisie vra motoriste moet in goed beligte en beveiligde parkeerterreine met sigbare veiligheidspersoneel of kameras parkeer.

Motordiefstal neem toe in Kimberley. Foto ter illustrasie: iStock

“Motoriste moet verdagte persone wat in parkeerterreine rondhang onmiddellik by sekuriteit of die polisie aanmeld en moet nie self probeer om moontlike verdagtes te konfronteer nie.”  

Motoriste moet ook in die aand vermy om in afgeleë of swak beligte gebiede te stop. Indien ’n voertuig nie behoorlik sluit nie, moet die eienaar dit nie onbewaak laat nie, maar eerder na ’n veiliger plek beweeg of hulp van veiligheidspersoneel verkry.

Oorweeg ook bykomende diefstal­voorkomingsmaatreëls soos ’n rathefboomslot. 

Enigiemand met inligting oor enige van die diefstalle kan ao Anthony Rheeder van die Kimberley-voertuigmisdaadondersoekeenheid by 083 538 3520 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel of inligting by enige polisiekantoor aanmeld.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.