On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Grondpaaie in Vrystaat glo onbegaanbaar ná swaar reën

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:49 Sun, 06 Sep 2026

Grondpaaie in Vrystaat glo onbegaanbaar ná swaar reën | News Article
Grondpaaie in Thaba Nchu benodig instandhouding. Foto verskaf

Inwoners is in sekere dele gestrand weens onbegaanbare grondpaaie nadat swaar reën paaie beskadig en op plekke heeltemal weggespoel het.

Grondpaaie in Thaba Nchu, dorpe en townships, sowat 60 km oos van Bloemfontein, het glo in ’n haglike toestand verval met gevaarlike slaggate wat toegang bemoeilik. “Taxibestuurders weier glo om sekere roetes te gebruik, terwyl leerders en nooddiensvoertuie weens die toestand van die paaie sukkel om hul bestemmings te bereik,” sê Tumelo Rammile, DA-raadslid in die Mangaung-metro.

Openbare vervoeroperateurs soos Interstate Bus Lines beweer swak instandhouding van paaie is ook besig om hul busse te beskadig en maak dit moeilik om mense te vervoer.

Rammile sê die situasie is die direkte gevolg van ’n gebrek aan behoorlike instandhouding deur die metro.


“Die ouditeur-generaal het bevind slegs 2% van Mangaung-metro se infrastruktuurbegroting aan instandhouding word bestee teenoor die vereiste 8%. Meer as 60% van die metro se paaie is in ’n swak toestand met ’n rehabilitasie-agterstand van sowat R7,5 miljard.

“Terwyl Mangaung nuwe projekte bou word bestaande infrastruktuur nie behoorlik onderhou nie. Dit dra direk by tot die ineenstorting van dienslewering.”  

Thaba Nchu, Botshabelo, Wepener en Dewetsdorp word steeds afgeskeep met geen behoorlike planne om probleme rondom paaie, water en vullisverwydering die hoof te bied nie.

Tumelo Rammile, DA-raadslid in die Mangaung-metro, in Thaba Nchu. Foto verskaf

Rammile sal namens die DA aan Sello More, munisipale bestuurder, en Gregory Nthatisi, uitvoerende burgemeester, ’n skrywe rig vir dringende ingryping.

Hy wil hê dat ’n onmiddellike en openbare skedule vir die skraap en hergradering van alle grondpaaie in Thaba Nchu bekend gemaak word.

Hy eis ook dat padskrapers binne sewe dae na kritieke roetes in Selosesha, Bultfontein, Rooifontein, Mokwena, Feloana en omliggende gebiede ontplooi word.

Die grondpaaie in Thaba Nchu is in ’n swak toestand. Foto verskaf

Besonderhede oor die landelike padinstandhoudingsbegroting, uitgawes in Thaba Nchu vir 2024/25 en die ontplooiingsrekords van die munisipaliteit se voertuie moet ook openbaar gemaak word..

’n Behoorlike stormwaterdreineringsplan is nodig om te voorkom dat paaie tydens toekomstige swaar reën weggespoel word.

“Vir te lank word Thaba Nchu-inwoners soos tweedeklasburgers in hul eie metro behandel. Hulle betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie.” 

Die paaie sal dié week besoek word waarna die saak na die Vrystaatse LUR vir Cogta en die provinsiale wetgewer verwys kan word indien die metro nie optree nie. “Die inwoners van Thaba Nchu verdien paaie wat veilig, begaanbaar en waardig is.”  

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.