Central SA
Bloemfonteinse sentrum vra hulp om tuiste vir outistiese kinders te behou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:06 Tue, 08 Sep 2026
’n Skool vir outistiese kinders in Bloemfontein sit met die hande in die hare en vra dringende hulp om die eiendom te behou of ’n nuwe geskikte sentrum vir die kinders te vind.
Blaze the Sanctuary Autism Education and Support Centre bestaan reeds 14 jaar en bied ondersteuning aan 35 kinders van twee tot 16 jaar. Die sentrum se kernbeginsel is “om te wees, te doen, te word en te behoort” en stel hom ten doel om vir kinders ’n plek te skep waar hulle werklik behoort, terwyl hul ouers ook weet dat hul kinders aanvaar, verstaan en ondersteun word.
Die sentrum is op ’n kleinhoewe wat sowat twee jaar gelede deur ’n weldoener gekoop is vir die behoeftes van die sentrum. Die instansie is deur die jare tegemoetgekom met laer as markverwante huur.
Weens persoonlike omstandighede moet die eienaar egter die perseel verkoop. Die eiendom kan die sentrum s’n word mits hy teen einde Desember ’n koopprys van R2,2 miljoen kan aanbied.

Daar is geen ander geskikte persele waarheen die sentrum kan skuif nie. “Om ’n nuwe perseel te vind wat binne ons begroting val en geskik is vir ons kinders se behoeftes is ’n geweldige uitdaging,” sê Charene Aucamp, onderhoof van die sentrum. Die huidige opset is ideaal en die sentrum probeer alles in sy vermoë doen om dit te behou. ’n Fondsinsamelingsprojek is begin om te verhoed dat leerders by Blaze geen heenkome het teen volgende jaar nie.
Daar is reeds lang waglyste by skole vir kinders met spesiale behoeftes in Bloemfontein en omliggende gebiede. Meer as 104 kinders wag op ’n plek.
Ruimte
Baie ouers wil nie hul kinders verskuif nie, aangesien die sentrum individuele ondersteuning bied en hulle ’n groot hoeveelheid ruimte nodig het om gemaklik te kan funksioneer.
Die terrein beskik oor verskeie klaskamers, tussenruimtes, ’n terapiekamer, voldoende badkamers en groot oop areas waar die kinders binne en buite kan speel en funksioneer. Perdry is deel van die kinders se terapie en word elke Dinsdag by die sentrum aangebied.

Charene Aucamp, onderhoof en arbeidsterapeut, en dr. Marinda Raubenheimer, die skoolhoof en spraakterapeut. Foto verskaf
Die instansie het oor die afgelope twee jaar baie moeite en geld bestee om die eiendom spesifiek volgens die behoeftes van die kinders in te rig. Daar werk 17 personeellede by die sentrum, insluitend onderwysers, tuin- en ander ondersteuningspersoneel.
“Sou ons moet verskuif na ’n ander perseel, het ons nie die geld om die infrastruktuur weer aan te pas nie,” sê Aucamp. Vir kinders met outisme kan ’n verandering van omgewing besonder uitdagend wees. ’n Nuwe terrein, nuwe klaskamers en ’n onbekende omgewing kan verwarrend wees vir kinders wat juis op ’n vaste en bekende roetine staatmaak.
Die bestuur van die sentrum vra weldoeners en ondernemings in die gemeenskap om hulp sodat die perseel gekoop kan word. “Dit sal vir ons as personeel en ouers die nodige sekuriteit verskaf, aangesien ons dan nie weer hoef te huur nie.”
Die sentrum is as ’n niewinsgewende organisasie en openbare liefdadigheidsorganisasie geregistreer en kan artikel 18A-sertifikate aan kwalifiserende skenkers uitreik. Die organisasie is ook ’n vlak 2-B-BBEE-entiteit.
As deel van sy poging om geld in te samel, beplan die sentrum om gedurende Oktober/November ’n veiling van die kinders se kunswerke te hou.
“Die situasie waarin ons onsself bevind is vir ons en ons ouers baie stresvol. Ons hoop regtig iemand sal bereid wees om ons te help om hierdie plek te behou, of ons te help om ’n ander perseel beskikbaar te stel.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel ofwhatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

