On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Drankwinkel-aanrandingsaak: Verhoor begin moontlik binnekort

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:22 Tue, 08 Sep 2026

Drankwinkel-aanrandingsaak: Verhoor begin moontlik binnekort | News Article
Jacques Botes. Foto Charne van der Merwe

’n Man van Bloemfontein wat van aanranding aangekla word, se verhoor sal na verwagting op 1 Oktober begin.

Jacques Botes (25) het Maandag (7/8) sy sesde verskyning in die Bloemfonteinse landdroshof gemaak. Hy staan tereg op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die saak is voorheen uitgestel vir die voortsetting van die voorverhoor om die staat die geleentheid te bied om die volledige J88-verslag te bekom – ’n mediese verslagvorm wat in strafsake gebruik word.

Hofstukke

“Die verslag is steeds nie volledig nie,” sê Charl Coetzee, sy regsverteenwoordiger. “Die landdros het die staat die geleentheid gegee om die verslag voor die verhoor aan die verdediging te verskaf. Die staat mag dit egter nie eers op die dag van die verhoor aan ons oorhandig nie, omdat ek tyd nodig het om voor te berei vir wat ook al die verslag sê.”

Volgens hofstukke spruit die aanklag uit ’n voorval wat na bewering op 18 April 2026 by ’n drankwinkel in Wilgehof plaasgevind het. Die staat beweer Botes het Dumile Dukani onregmatig aangerand deur hom op die grond te stoot en te skop, met die opset om ernstige liggaamlike beserings te veroorsaak.


Botes ontken egter die bewerings teen hom. Hy het buite die hof aan OFM Nuus gesê die voorval het plaasgevind by die drankwinkel waar hy werk. Dukani is reeds vir sowat drie jaar ’n gereelde bron van probleme by die onderneming.

Dukani het glo gereeld dronk by die winkel opgedaag, werknemers gevloek, drank geëis en dreigemente gemaak wanneer hy nie verder gehelp word nie.

“Hy het op die dag van die voorval weer die winkel binnegekom en ’n vrouewerknemer gedreig. Ek het ingegryp om haar te beskerm en die man slegs liggies in die rigting van die uitgang gestoot. Hy het geval met ’n bierbottel in sy hand en die bottel het hom in die gesig beseer.”

Dukani het sy hulp geweier toe hy hom iets aangebied het om die bloed af te vee. Daar was ook ’n poging om die saak deur bemiddeling op te los, maar Dukani wou nie daarmee voortgaan nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.