On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verkrag-slagoffers ingedoen weens tekort aan DNS-toestelle in Noord-Kaap

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:32 Wed, 09 Sep 2026

Verkrag-slagoffers ingedoen weens tekort aan DNS-toestelle in Noord-Kaap | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Noord-Kaapse politieke party waarsku ’n tekort aan DNS-stelle kan ernstige gevolge vir verkragtingslagoffers en strafregtelike ondersoeke hê.

Die tekort aan D6-DNS-stelle in die provinsie is aan die lig gebring nadat belangrike biologiese bewyse nie verlede week, ná ’n mediese prosedure op ’n jong verkragtingslagoffer in Kimberley, versamel kon word nie. Die situasie kan die geregtigheid wat slagoffers verdien, ernstig benadeel, sê Isak Fritz, provinsiale leier van die DA in die Noord-Kaap.

“In verkragtingsake waar ’n slagoffer swanger raak en later die swangerskap beëindig, het mediese personeel DNS-stelle nodig om weefselmonsters vir toetse te versamel. Hierdie bewyse kan help om die identiteit van die baba se pa vas te stel, verdagtes te identifiseer en oortreders skuldig te bevind.”


Hy sê as die bewyse nie versamel word nie, is dit onregverdig teenoor die slagoffer. Dit kan ook die polisie se ondersoek en die saak teen die beweerde oortreder benadeel.

Navrae by polisiekantore in Kimberley, Galeshewe en Hartswater toon DNS-stelle is tans op baie plekke nie beskikbaar nie. In ’n provinsie wat reeds baie seksuele geweld ervaar, is dit onaanvaarbaar. Dit maak slagoffers nog meer kwesbaar en kan beteken dat oortreders nie voor die gereg gebring word nie, sê Fritz.

‘Noord-Kaap het tweede hoogste verkragtingsyfer in SA’

Hy sê die situasie is veral kommerwekkend omdat die Noord-Kaap volgens die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke die grootste toename in verkragtingsake in die land aangeteken het. Dit beteken die provinsie het nou weer die naashoogste verkragtingsyfer in die land.

“Ons kan nie die stryd teen verkragting wen nie as slagoffers nie die nodige forensiese dienste kry nie,” sê Fritz. “Oortreders kan ook wegkom omdat belangrike bewyse nie versamel word nie.”

Die DA sal die polisiekantore besoek om vas te stel hoe groot die tekort aan DNS-stelle is. Die saak sal ook na die party se nasionale woordvoerders verwys word sodat hulle dit met die minister van polisie kan opneem. “DNS-stelle is nie ’n luukse nie. Dit is belangrike hulpmiddels om oortreders te help vang en skuldig te bevind,” sê Fritz. “Die stelle moet beskikbaar wees wanneer slagoffers dit nodig het.”

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.