Central SA
Miaauende krisis op Bothaville: Sowat 70 katte teel aan by onbewoonde huis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:46 Wed, 09 Sep 2026
Die kat kom weer – dié keer in ’n trop van sowat 70, en inwoners van ’n Vrystaatse dorp wil weet wie gaan dié miaauende krisis hok slaan.
Daar is ’n huis in Coetzerstraat, Bothaville, wat volgens die AfriForum-tak tans as ’n telery vir sowat 70 katte dien. ’n Dringende beroep word op die Nala-munisipaliteit gedoen om verantwoordelikheid te aanvaar vir die ernstige openbare gesondheids-,veiligheids- en dierewelsynskrisis wat dié onbewoonde perseel in die buurt veroorsaak, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Inwoners sê dit klink asof van die katte aan ’n aansteeklike respiratoriese siekte soos katgriep of sniffles ly, wat moontlik ’n gevaar vir troeteldiere in die omgewing kan inhou. Die katte beweeg boonop vrylik op omliggende erwe en in huise, beskadig meubels en tree in sommige gevalle aggressief op.
Kommer oor die moontlike verspreiding van omlope as gevolg van die katte is ook geopper. “Hoewel die Kroonstadse Dierebeskermingsvereniging (DBV) aanvanklik die gebied besoek het om die omvang van die probleem te bepaal, val Bothaville nie binne dié tak se aangewese bedieningsgebied nie.
“Die DBV-tak het aangedui dat dit nie finansieel haalbaar is om ongeveer 70 katte sonder bykomende ondersteuning te vang, te vervoer en te huisves nie. Die beraamde vervoerkoste alleen beloop sowat R7 000.”
Die DBV het die saak intussen na die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se hoofkantoor in Johannesburg verwys. ’n Verteenwoordiger van die NDBV het AfriForum reeds telefonies gekontak en ondersoek tans moontlike hulp. Die Kroonstadse DBV het ook bevestig dat daar aan ’n praktiese aksieplan gewerk word.
Pretorius sê hulle verwelkom dié bereidwilligheid om in die belang van dierewelsyn te help. “Dit verander egter nie die feit dat die munisipaliteit die primêre verantwoordelikheid dra om openbare gesondheidsgevare, oorlas en onveilige toestande in sy regsgebied aan te pak nie.
'Geen dier mag op ’n onwettige of wrede wyse benadeel mag word nie'
“Die DBV is ’n welsynsorganisasie met beperkte fondse en hulpbronne. Die munisipaliteit kan nie bloot terugsit en verwag dat só ’n organisasie alleen ’n krisis van hierdie omvang moet oplos nie. Die munisipaliteit moet die nodige rolspelers koördineer, hulpbronne beskikbaar stel en verseker dat die diere wettig, professioneel en op menslike wyse verwyder en deur ’n veearts beoordeel word,” sê Pretorius.
AfriForum het die munisipaliteit versoek om ’n daadwerklike plan op te stel, sy verantwoordelikheid na te kom en die probleem op te los, asook om die eienaar van die onbewoonde eiendom tot verantwoording te roep.
Hulle benadruk egter dat geen dier op ’n onwettige of wrede wyse benadeel mag word nie. Die oplossing moet wettig, gekoördineerd, volhoubaar en menslik wees.
“Hoe langer die munisipaliteit versuim om op te tree, hoe groter word die kolonie en hoe ernstiger raak die risiko vir inwoners en diere. Hierdie probleem sal nie vanself verdwyn nie. AfriForum sal die munisipaliteit aanspreeklik hou en die saak na die toepaslike provinsiale en dierewelsynsowerhede eskaleer indien daadwerklike optrede ontbreek.”
Amos Goliath, administrateur by die Nala-munisipaliteit, sê dit is inderdaad die munisipaliteit se verantwoordelikheid om die kwessie op te los.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

