On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Munisipaliteit voor ultimatum oor rioolbesoedeling in Vaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:56 Thu, 10 Sep 2026

Munisipaliteit voor ultimatum oor rioolbesoedeling in Vaal | News Article
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier. Foto verskaf

’n Burgerregte-organisasie is vasbeslote om nie langer toe te laat dat die voortslepende besoedeling van die Vaalrivier ongehinderd voortgaan nie.

Terwyl ’n dringende spertyd verstryk, word druk op die verantwoordelike owerhede geplaas om stappe te doen om die probleem op te los en die skade te hanteer. Die kwessie kan verder eskaleer indien daar nie betyds aan dié eise voldoen word nie, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Die Matlosana-munisipaliteit het tot die einde van Donderdag (10/9) kans om ’n uitvoerbare herstelplan vir die storting van onbehandelde riool vanaf die Hartbeesfontein-suiweringsaanleg aan AfriForum se Klerksdorp-tak voor te lê en die besoedeling daar te staak of minstens te beperk.

’n Voorlopige AfriForum-ondersoek toon die aanleg is ná sowat tien maande steeds nie operasioneel nie en het geen behandelingsvermoë nie.

Die organisasie eis voorts dat die munisipaliteit onafhanklike watermonsters laat neem en sy watergebruiksmagtiging en uitvloeitoetsresultate bekend maak, gemeenskappe stroomaf in kennis stel van die besoedeling en met die rehabilitasie van die besoedelde waterloop begin.

“Indien die munisipaliteit versuim om teen die spertyd onmiddellike beheermaatreëls in te stel en ’n plan voor te lê, sal AfriForum voortgaan om klagtes teen die munisipaliteit aanhangig te maak by die departement van water en sanitasie (DWS), die Groen Skerpioene, die Menseregtekommissie (MRK), die polisie en die NVG,” sê Pretorius.

AfriForum het die ultimatum uitgereik ná ’n onlangse besoek aan die aanleg. Verteenwoordigers het die aanleg besoek as deel van sy jaarlikse watergehalte-waarnemingoudit, waartydens die gehalte van drinkwater en behandelde afvalwater getoets word.

‘Die besoedeling vind al minstens die afgelope tien maande plaas’

Tydens die besoek het die wanfunksionaliteit van die aanleg duidelik geword. ’n Munisipale werknemer het AfriForum ook verhinder om ’n monster van die uitvloeiwater te neem. Die werknemer het onder meer aangevoer riool wat na die Hartbeesfontein-aanleg gepomp word, is onbehandel en vloei direk in die nabygeleë Jagspruit in.

Dié spruit vloei nagenoeg 30 km suidwes van Hartbeesfontein in die Skoonspruit voordat dit by die Vaalrivier aansluit. Dit strook met bevindinge van ’n parlementêre oorsiggroep in Mei vanjaar. Afgevaardigdes het die Hartbeesfontein- en Klerksdorp-aanleg besoek en “ernstige infrastruktuurmislukkings” teëgekom wat tot die storting van onbehandelde riool in plaaslike rivierstelsels lei.

Die groep het voorts bevestig die Hartbeesfontein-aanleg is reeds sedert Desember buite werking weens erge verstoppings by die inlaatpunte en dat onbehandelde riool daarom in die Jagspruit en dan die Vaalrivier vloei. Planne om die besoedeling te tsaak vorder te stadig, sê Pretorius. “Die besoedeling vind al minstens die afgelope tien maande plaas, en die parlement se afgevaardigdes was ook reeds vier maande gelede op die terrein.


“Hier het hulle boonop erken dat dringende intervensie noodsaaklik is en dat die verantwoordelike persone voor stok gekry moet word. Tog het niks verbeter nie en rou riool vloei steeds onbelemmerd in een van Suid-Afrika se belangrikste waterstelsels in.

“Die Vaalrivierstelsel is volgens DWS dié belangrikste grootmaatwatervoorsieningstelsel in die land en voorsien water aan 46% van die land se ekonomie en 33% van die bevolking. Die besoedeling hou dus verreikende gevolge in vir mens, dier, die omgewing én die ekonomie.”

Pretorius wys ook daarop dat waterbesoedeling ’n skending van artikel 29 van die Grondwet is. Daarbenewens vereis artikel 19 van die Nasionale Waterwet redelike stappe moet gedoen word om waterbesoedeling te voorkom, te beperk en reg te stel. Artikel 151 maak voorsiening vir strafregtelike aanspreeklikheid vir onwettige optrede of versuim wat tot die besoedeling of waarskynlike besoedeling van ’n waterbron lei.

SW Scott, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, meen die munisipaliteit se hantering van die probleem laat veel te wense oor. “Ons het hier nie net te make met nóg ’n diensleweringsmislukking nie. Dit hou ’n ernstige bedreiging in vir openbare gesondheid, die omgewing en watersekerheid, en die munisipaliteit moet nou ingryp en pa staan vir dié ramp.”

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel ofwhatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.