On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Emily Hobhouse se nalatenskap herdenk met eeufeesstoet

───   SUSAN MARÉ 14:37 Thu, 10 Sep 2026

Emily Hobhouse se nalatenskap herdenk met eeufeesstoet | News Article
Emily Hobhouse. Foto verskaf

Bloemfontein berei hom voor vir ’n eenmalige, unieke herdenking: Die Emily 100-begrafnisstoet na die Nasionale Vrouemonument op 31 Oktober.

Toe Emily Hobhouse ’n eeu gelede op 27 Oktober 1926 te ruste gelê is, het duisende mense langs die pad gestaan terwyl die begrafnisstoet na die Nasionale Vrouemonument beweeg het. Die stoet was indrukwekkend. In die optog was 200 skoolmeisies in wit geklee en ses skoolmeisies met haar kissie as wat na die monument geloop en dit daar geplaas het.

Honderd jaar later gaan ’n seremoniële stoet van 650 deelnemers op 31 Oktober met die grootste sorg en eerbied, geklee in periodekostuums, weer na die Vrouemonument stap. Die grootse geleentheid gaan regstreeks op nasionale televisie uitgesaai word. Die hele Suid-Afrika kan saamkyk en dié geskiedkundige geleentheid ervaar.

Projekleier en historikus Elsabé Brits sê vrywilligers word uitgenooi om deel te neem aan die optog – mense wat deel wil wees van die lewendegeskiedeniservaring. Groepe sluit in skoolmeisies in wit, vroue in swart roudrag, studente in toga’s, ’n koor, orkes, kissiedraers, veteraanmotors en perderuiters.


Volgens Brits, wat outeur is van die boek Emily Hobhouse – Geliefde Verraaier, was Hobhouse vreesloos as humanitêre pasifis en sy het die Britse Koninkryk getrotseer om die gruwels van die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) bloot te lê.

“Sy is gebrandmerk as ‘n histeriese vrou en verraaier en het geweier om stilgemaak te word. So is duisende vroue en kinders gered. Sy het nie net haar stem laat hoor nie, maar ook vernietigende verslae gepubliseer, sosiale hervorming gelei, en op haar eie die Britse Ryk tydens die oorlog uitgedaag.

“Dit is waarom Emily Hobhouse ’n heldin genoem word. Sy het die waarheid ontbloot, verwerping verduur, boervroue ná die oorlog bemagtig om hul lewens te herbou en onafhanklikheid terug te kry deur kant- en weefskole op te rig.”

Die deelnemers aan die eeufeesstoet sal weer na die Vrouemonument stap. Foto verskaf

Haar nalatenskap van medemenslikheid en geregtigheid word met hierdie eeufeesstoet herdenk.

Die groepe waarin daar nog deelnemers kortkom, is die vroue in swart roudrag en die studente in toga’s. “Ons repeteer op Sondag die 25ste Oktober die hele dag en op Vrydag 30 Oktober van 14:00 tot 18:00. En natuurlik deelname op die groot dag. Ons gee kos en drinkgoed op al die dae,” sê Brits.

“Vir die studentegroep soek ons mans, vroue en jong mense – daarvoor maak ons vir jou ’n toga en keps. Jy dra jou eie swart broek of romp en wit hemp en swart of bruin skoene. Vir die vrouegroep word jou kostuum gemaak en jy dra jou eie swart, bruin of grys skoene.”

Mense wat wil deelneem, moet so gou moontlik vir Michelle Horn kontak by e-pos  bloemteater@gmail.com of per whatsapp by 079-898-1428.

OFM Nuus/Susan Maré sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.