On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Emfuleni-oudraadslid se strafsaak begin moontlik dan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:42 Thu, 10 Sep 2026

Emfuleni-oudraadslid se strafsaak begin moontlik dan  | News Article
Gerda Senekal. Foto: Facebook

’n Voormalige VF Plus-raadslid van Emfuleni wat daarvan beskuldig word dat sy oor haar akademiese kwalifikasies gejok het, se saak sal na verwagting op 10 November voortgaan.

Gerda Senekal het Donderdag (10/8) in die Vereeniging-streekhof verskyn. Sy staan tereg op ’n aanklag van bedrog nadat ’n strafregtelike klag in 2023 by die polisie ingedien is.

Die saak het aanvanklik binne die party ter sprake gekom voordat dit in 2023 ’n strafregtelike aangeleentheid geword het. Kobus Hoffman, ’n voormalige Gautengse VF Plus-wetgewerlid, het destyds beweer Senekal het valslik voorgegee dat sy grade in openbare administrasie en B.Sc. Politieke Wetenskap verwerf het.

’n Ondersoek het aan die lig gebring dat sy nie oor dié kwalifikasies beskik nie. Hoffman beweer die wanvoorstelling het Senekal onbillik bevoordeel tydens kandidaatkeuringsprosesse.

Gerda Senekal verlaat die Vereeniging-landdroshof tydens ’n vorige verskyning. Foto: Vaalweekblad Argief

Wouter Wessels, VF Plus-LP, die party se nasionale voorsitter, het vroeër aan OFM Nuus gesê Senekal het nie haar kwalifikasies op haar CV of aansoekvorm vir die raadslidpos verkeerd voorgestel nie.

Sy het wel by ’n geleentheid in die openbaar die indruk gewek dat sy oor bepaalde kwalifikasies beskik. “Dissiplinêre stappe is gedoen en die interne aangeleentheid is afgehandel.”

Die hof het tydens haar vorige verskyning op 27 Augustus gehoor Senekal se vorige regsverteenwoordiger het aangedui dat hy hom aan die saak wil onttrek. Sy word nou deur Jaco van Heerden verteenwoordig.

'Die party se besluit laat my wonder of daar nie vrees bestaan dat die jongste inhegtenisneming moontlik ook op haar kan reflekteer nie'

Die saak is toe uitgestel sodat sy nog video’s en dokumente aan hom kan oorhandig. Streeklanddros Retha Willemse het die uitstel vir verdere blootlegging toegestaan.

Senekal het in die hof verskyn ’n dag nadat sy aangekondig het dat sy as raadslid in Emfuleni, asook uit haar leiersposte en as lid van die VF Plus, bedank het.

Jaco Mulder, ’n VF Plus-wetgewerlid en provinsiale leier, ontken dat Senekal gevra is om te bedank en sê verskeie opsies is met haar bespreek. Hy sê haar bedanking sal haar en die party ook minder blootstel voor die munisipale verkiesing, terwyl sy haar seun David, wat saam met ses ander Emfuleni-werknemers teregstaan op onder meer bedrog, geldwassery en korrupsie, bystaan. Die bewerings teen hulle is nog nie in die hof getoets nie.

Senekal sê egter sy is gevra om as raadslid én kandidaat te bedank en dat die omstandighede moontlik reputasieskade vir die party en sy verkiesingsveldtog kan veroorsaak.

Hoffman het kritiek uitgespreek teen Senekal se bedanking en gesê dit is nie billik dat die VF Plus van haar verwag om te bedank weens die optrede van haar seun nie.

“Die party se besluit laat my wonder of daar nie vrees bestaan dat die jongste inhegtenisneming moontlik ook op haar kan reflekteer nie.” Hoffman sê die “pan begin nou bietjie warm raak” vir die VF Plus en Senekal is moontlik die een wat eindelik “onder die bus gegooi word”.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.