On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-man hoor eers ná naweek oor ontslag-aansoek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:54 Fri, 11 Sep 2026

Noordwes-man hoor eers ná naweek oor ontslag-aansoek | News Article
Wernich Botha verskyn op aanklagte van moord op Hilton Pretorius (regs). Foto: Charne van der Merwe/Facebook

’n Noordwes-man sal eers Maandag (14/8) weet of hy ’n vry man is of steeds in die hof moet veg om sy onskuld te bewys.

Wernich Botha (34) het Vrydag (11/8) in die Klerksdorp-streekhof verskyn, waar ’n beslissing oor sy aansoek om ontslag ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet verwag is. Die landdros het egter meer tyd nodig om oor die aansoek te besluit en die beslissing is tot Maandag uitgestel.

Botha se aansoek om ontslag volg nadat die staat sy saak gesluit het. Hy word aangekla van die moord op Hilton Pretorius (32) en poging tot moord op PW Roos, ná ’n voorval op 2 September 2023 in die parkeerterrein van Cadillac’s 60’s Pub.

Hilton Pretorius en Natasha van der Merwe (née Fischer). Foto: Facebook

Indien die aansoek om ontslag nie slaag nie, het die verdediging twee opsies. “Ons kan óf die saak sluit, waarna die landdros ’n beslissing kan maak op grond van die getuienis wat reeds voor die hof geplaas is, óf ons kan met die verhoor voortgaan en die verdediging se saak aanbied deur getuies te roep,” sê adv. Kobus Burger, Botha se regsverteenwoordiger.

Die hof het vroeër gehoor Botha het Pretorius en Roos elk een keer geslaan. Pretorius het breinbloeding opgedoen en is 18 dae later aan akute respiratoriese noodsindroom oorlede. 

Botha se verweer is dat hy uit selfverdediging opgetree het nadat Pretorius hom na bewering dreigend genader het. Die verdediging het tydens die aansoek om ontslag aangevoer drie staatsgetuies het reeds getuienis gelewer wat daarop dui Botha het uit selfverdediging opgetree.

“Maandag se beslissing kan die einde van die saak beteken indien die hof bevind daar bestaan geen redelike moontlikheid van ’n skuldigbevinding op die getuienis voor hom nie,” sê Burger.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.