On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Nog klagte oor seuns kan kom teen Virginia-man

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:10 Fri, 11 Sep 2026

Nog klagte oor seuns kan kom teen Virginia-man | News Article
Jaco Roets het twee afsonderlike hangende sake teen hom. Foto verskaf

’n Man van Virginia wat van ’n reeks seksuele misdrywe teen seuns beskuldig word, sal in die komende weke weer in die hof verskyn.

Jaco Roets (45) het twee afsonderlike hangende sake teen hom. Een wat betrekking het op verskeie beweerde seksuele misdrywe oor ’n aantal jare word op 23 September in die streekhof hervat, terwyl die tweede saak op 14 Oktober in die hof dien.

Die nuwe saak bevat onder meer aanklagte van seksuele aanranding, verkragting, seksuele voorbereiding van kinders, statutêre verkragting, die blootstelling van ’n kind aan pornografie en die beweerde besit van kinderpornografie.

Foto’s en video’s

Volgens die nuwe klagstaat hou laasgenoemde aanklag verband met materiaal wat na bewering in Junie 2018 in Roets se besit was. Die staat beweer dat verskeie onwettige foto’s en videos op ’n L’enovo-skootrekenaar gevind is.

Die materiaal bevat glo inhoud wat volgens die staat seksuele uitbuiting van kinders behels. Die nuwe aanklagte moet volgens die staat ook teen die agtergrond van Roets se beweerde werkswyse beskou word. Daar word beweer hy het op kwesbare seuns en jong mans gefokus, hulle met sy voertuig genader of opgelaai en daarna ’n vriendskap met hulle aangeknoop.

'Roets is in 2012 aan ’n seksuele oortreding skuldig bevind'

Dié benadering het hom na bewering in staat gestel om toegang tot kwesbare jong mense te verkry. Die klagstaat bevat ook ’n aanklag wat verband hou met Roets se aansoek om werk by ’n veiligheidsmaatskappy in Augustus 2017.

Hy word daarvan beskuldig dat hy nie sy vorige skuldigbevinding of bevinding oor ’n seksuele oortreding teen ’n kind of verstandelik gestremde persoon aan sy werkgewer bekend gemaak het nie. Roets is in 2012 aan ’n seksuele oortreding skuldig bevind en is daarna in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem. Die bewerings in die ander saak strek volgens die klagstaat terug tot 2000.

Roets word ook daarvan beskuldig dat hy in Julie 2018 probeer het om die regsproses te verydel. Volgens die staat het hy na bewering ’n vrou probeer oorreed om ’n valse verklaring aan die polisie af te lê wat hom van ’n beweerde voorval op 9 Junie 2018 sou vrywaar.

Jaco Roets. Foto verskaf

Die staat beweer die doel hiervan was om ’n seun se weergawe van die gebeure te betwyfel en die moontlikheid van ’n suksesvolle vervolging te beïnvloed. Roets is in 2018 weer in hegtenis geneem in verband met seksuele misdrywe, maar is op borgtog vrygelaat.

Hy is verlede jaar vir die derde keer in hegtenis geneem en het op 8 Desember in die Virginia-landdroshof verskyn op nuwe aanklagte, waaronder seksuele aanranding, die blootstelling van ’n kind aan pornografie, seksuele voorbereiding en voorbereiding.

Sy borgtogaansoek is destyds geweier. Landdros Annaria Campher het tydens die borgtogaansoek aangevoer dat Roets na bewering sy slagoffers vir seksuele doeleindes teiken.

Die staat het aangevoer hy is ’n gevaar vir seuns in die gemeenskap en het na bewering ’n soortgelyke werkswyse gebruik om slagoffers te teiken. Meer as 300 inwoners het binne twee dae ’n petisie onderteken wat tydens sy die verskyning aan die hof oorhandig is.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.