On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Botha se moordsaak gaan voort ná onsuksesvolle ontslagaansoek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:50 Mon, 14 Sep 2026

Botha se moordsaak gaan voort ná onsuksesvolle ontslagaansoek | News Article
Wernich Botha verskyn op ’n aanklag van moord op Hilton Pretorius. Foto: Charne van der Merwe

’n Noordwes-man wat teregstaan op ’n aanklag van moord, sal volgende jaar verder in die hof moet veg om sy onskuld te bewys.

Wernich Botha (34) se aansoek om ontslag ingevolge artikel 174 van die Strafproseswet is Maandag (14/9) in die Klerksdorp-streekhof van die hand gewys. Die verdediging sal nou op 19 en 20 April die geleentheid kry om sy saak te stel, sê adv. Kobus Burger, Botha se regsverteenwoordiger.

Dit kom nadat drie staatsgetuies tydens die verhoor getuig het Botha het uit selfverdediging opgetree nadat Hilton Pretorius hom deur die loop van die betrokke dag herhaaldelik met geweld gedreig het.

Hilton Pretorius het ernstige kopbeserings opgedoen en is oorlede 18 dae ná die voorval in September 2023. Foto: Facebook

Botha staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord ná ’n voorval op 2 September 2023 in die parkeerterrein van Cadillac’s 60’s Pub. Hy staan ook tereg op ’n aanklag van beweerde aanranding van PW Roos.

Die voorval het ontstaan nadat Botha sy destydse meisie, Natasha van der Merwe (voorheen Fisher), saam met Pretorius in die bed in haar huis betrap het. Tydens die verhoor in Mei het Natasha getuig Botha het onverwags op 1 September uit Somalië teruggekeer en Pretorius by haar huis aangetref.

Roos het egter tydens die hofsaak in Mei die getuiebank verlaat om die beskuldigde se hand te skud en om verskoning te vra. Die staat het sy saak gesluit, waarna die verdediging die aansoek om ontslag ingedien het. 

Natasha van der Merwe in die getuiebank. Foto: Charne van der Merwe

Die verdediging het aangevoer op grond van die getuienis wat reeds voor die hof geplaas is, bestaan daar geen redelike moontlikheid van ’n skuldigbevinding nie. 

Die hof het vroeër gehoor Botha het Pretorius en Roos elk een keer geslaan. Pretorius het breinbloeding opgedoen en is 18 dae later aan akute respiratoriese noodsindroom oorlede.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.