On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Polisie waarsku ná vyf vroueliggame reeds in Kempton Park gevind is

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:02 Mon, 14 Sep 2026

Polisie waarsku ná vyf vroueliggame reeds in Kempton Park gevind is  | News Article
Elizabeth (Tsontso) Mokolo Moselakgomo. Foto verskaf

Die polisie waarsku vroue om uiters waaksaam te wees nadat die liggame van vyf vroue binne sowat twee maande in die Kempton Park-omgewing gevind is.

Die vyfde liggaam is Maandag (14/9) ontdek. ’n Liggaam wat Saterdag (12/9) gevind is, is op dieselfde dag uitgeke. 

Elizabeth (Tsontso) Mokolo Moselakgomo (38) het die vorige Woensdag gaan draf en nie weer teruggekeer na haar huis nie, sê brig. Athlenda Mathe, provinsiale polisiewoordvoerder.

Sy is by die Germiston-lykshuis deur haar familie uitgeken. “Daar is kommerwekkende ooreenkomste tussen van die sake, maar die polisie kan nog nie bevestig of die vroue se sterftes met mekaar verband hou en of ’n reeksmoordenaar in die gebied bedrywig is nie,” sê sy.

“Ons sal nie rus voordat ons die waarheid vasgestel het nie. Waar daar bewyse is wat mense aan hierdie misdade verbind, sal ons hulle meedoënloos vervolg en verseker dat hulle met die volle mag van die gereg te doen kry.”

Die eerste slagoffer (37) se liggaam op 15 Julie naby die R21 gevind. Sy was naak en haar hande en voete was met kabelbinders vasgebind. ’n Verdagte is op 17 Julie, twee dae nadat die liggaam ontdek is, in hegtenis geneem. Die verdagte is steeds in aanhouding terwyl die ondersoek voortduur.

Die tweede slagoffer (32) is op 24 Augustus gevind, ook naby die R21. Sy was gedeeltelik geklee. Die derde liggaam is op 10 September gevind. Mathe sê dié vrou was reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding en was ook naak. “Haar identiteit kon aanvanklik nie formeel vasgestel word nie.”


Moselakgomo se liggaam is slegs twee dae later agter ’n hotel in Rhodesfield gevind. Sy was gedeelte geklee in sportdrag. “Haar agtjarige dogter was tuis toe sy die middag gaan draf het en het familielede gekontak toe haar ma nie terugkeer nie.”

Die polisie het sedertdien alle beskikbare leidrade opgevolg en onder meer by hospitale en lykshuise navraag gedoen. Die ooreenkomste tussen sommige van die sake het daartoe gelei dat ’n multidissiplinêre taakspan saamgestel is om die ondersoeke te versterk. 

Die span bestaan uit speurders en spesialis-eenhede wat die beskikbare bewyse, tydlyne, plekke waar die liggame gevind is en die slagoffers se profiele ontleed. Die sielkundige-ondersoekeenheid is ook betrek om moontlike gedragspatrone en verbande tussen die sake te ondersoek.

Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale kommissaris, sê die polisie sal “geen steen onaangeroer laat” om diegene wat vir die vroue se dood verantwoordelik is, te identifiseer en voor die gereg te bring nie.

Vroue in en om Kempton Park word intussen gemaan om nie alleen te stap of draf nie, veral nie in afgesonderde gebiede nie. Hulle word aangeraai om waar moontlik in groepe te beweeg, waaksaam te bly en iemand wat hulle vertrou in kennis te stel van waarheen hulle gaan en wanneer hulle verwag om terug te wees.

Enigiemand met inligting wat met die vyf sake verband kan hou, word versoek om ao. Elvis Manyike by 082 465 7249 te kontak, Stop Misdaad by 08600 10111 te bel of inligting by enige polisiekantoor aan te meld.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.