On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Eerste groot stap om Bloemfonteiner se glimlag terug te gee

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:10 Mon, 14 Sep 2026

Eerste groot stap om Bloemfonteiner se glimlag terug te gee | News Article
Gus Heymans is een tree nader aan ’n nuwe glimlag. Foto verskaf

’n Jong man van Bloemfontein is nou een tree nader aan ’n nuwe glimlag en die vermoë om weer behoorlik te kou nadat sy eerste groot tandheelkundige operasie suksesvol verloop het.

Gus Heymans (27) het Woensdag (9/9) drie tandheelkundige inplantate laat aanbring. Beenweefsel is gebruik om die inplantate te versterk. Sy ma, Alecia, sê die operasie het sowat twee uur geduur en hy het ondanks sy vrees vir naalde goed saamgewerk.

Gus, wat outisties is en nie kan praat nie, het voorheen besonder angstig geraak wanneer hy naalde sien. Dié keer het hy egter sy ma en die mediese span verras deur kalm te bly. “Hy was baie rustig op pad teater toe en het regtig mooi saamgewerk,” sê Alecia, wat die hele tyd by hom gebly het.

Die eerste fase van die behandeling was gemik op die voorbereiding van sy mond vir die permanente tandheelkundige oplossing wat later volg. Drie inplantate is tydens die operasie geplaas. Been is agter in sy onderkaak geoes en voor gebruik om die deel vir die onderste dele van die inplantate te versterk.


’n Abses in sy onderkaak is ook tydens die prosedure gedreineer. Hoewel Gus nou moet herstel van ’n seer en geswelde mond, sê Alecia dit gaan goed met hom. Die gesin moet egter nog ’n rukkie wag voordat die volgende fase kan begin. Dit is oor sowat vyf maande beplan en sal weer onder narkose plaasvind.

“Tydens dié fase sal die inplantate oopgemaak word sodat die skroewe en die volgende komponente van die tandheelkundige oplossing aangebring kan word. Die finale kunstande en ander nodige komponente sal daarna in sy mond geplaas word.”

Gus sukkel tans om behoorlik te kou. Foto verskaf

Alecia sê die grootste deel van die voorbereidende werk is nou gedoen nadat die beenoorplanting en plasing van die onderste dele van die inplantate agter die rug is.

Die behandeling is nodig nadat Gus oor ’n lang tydperk verskeie tande verloor of beskadig het. Hy het aanvanklik ’n voortand verloor nadat hy tydens ’n epileptiese toeval op sy gesig geval het, terwyl ander tande later ook beskadig is.

Omdat hy nie maklik pille kan sluk nie, moes sy medikasie voorheen in sy mond oplos voordat hy dit kon inneem. Dit het ook tot verdere tandprobleme bygedra.

Gus saam met sy ouers, Gustav en Alecia. Foto verskaf

Vir die gesin is die eindelike doel egter meer as net ’n nuwe glimlag. “Gus sukkel tans om behoorlik te kou en kan weens sy onvermoë om te praat nie altyd vir sy familie wys wanneer hy pyn of ongemak ervaar nie. Die permanente oplossing behoort hom uiteindelik te help om weer beter te kou en ’n groter mate van gemak in sy daaglikse lewe te ervaar.”

Alecia sê sy is dankbaar dat die eerste operasie goed verloop het en dat Gus so goed deur die uitdagende prosedure gekom het. “Die Here is goed vir hom.”

Hoewel die gesin ’n hospitaalplan het, dek dit nie die koste van die materiaal, inplantate en skroewe nie. Hulle moet ook ’n bybetaling vir die daghospitaal maak. “Dit het ’n groot geldelike impak,” sê Alecia.

Die eerste twee fases van Gus se behandeling kos byna R73 000, wat die gesin met ’n aansienlike finansiële las laat. Hulle hoop op ondersteuning om Gus se behandeling voort te sit en hom eindelik die glimlag te gee waarvoor hulle so lank wag.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.