Central SA
Noordwes-pasiënte betaal prys vir gesondheidskrisis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:23 Tue, 15 Sep 2026
Die tekort aan medisyne by staatshospitale en klinieke in Noordwes plaas steeds duisende inwoners onder druk.
Die probleem kan slegs opgelos word deur beter bestuur, voorraadbeheer en aanspreeklikheid, sê Michal Groenewald, die VF Plus se nasionale ondervoorsitter en lid van die Noordwes-wetgewer. Inwoners met chroniese toestande soos diabetes en hoë bloeddruk is glo gereeld sonder hul nodige medikasie. Dit terwyl verskaffers weens uitstaande betalings toenemend weier om sake met die provinsie te doen.
Die provinsiale gesondheidsdepartement was tussen 2018 en 2022 onder administrasie, maar dit het nie die probleme beëindig nie. Groenewald sê die situasie het ’n ernstige uitwerking op mense wat van openbare gesondheidsdienste afhanklik is.
“Die impak hiervan op inwoners wat afhanklik is van die staat se mediese dienste is enorm. Selfs pasiënte met lewensgevaarlike chroniese mediese toestande soos hoë bloeddruk en diabetes, word gereeld by klinieke en hospitale weggewys weens medisynetekorte.”
Hy sê swak bestuur, korrupsie en laat betalings is van die grootste redes vir die situasie. ’n Oorsigbesoek aan die Mmabatho- mediese depot in 2022 het onthul dat daar steeds onbetaalde fakture uitstaande was wat terugdateer tot sover as 2014.
“Benewens die korrupsiekultuur en algemene laksheid wat die administrasie kenmerk, weier baie verskaffers van medisyne en ander mediese materiaal om verder met die provinsie sake te doen weens geen of laat betalings.”
Slegs sowat 30% van bestelde medikasie en 17% van ander mediese materiaal word tans aan klinieke en hospitale gelewer. “Dit wys op ernstige tekortkominge in die departement se voorraadbeheer en administrasie.”
Die provinsie moet sy interne kapasiteit verbeter om medisyne en ander noodsaaklike voorraad behoorlik te versprei en te beheer, eerder as om op konsultante en kontrakteurs staat te maak.
Die party doen ’n beroep op Noordwes-premier Lazarus Mokgosi om dringend in te gryp en verantwoordelikheid te aanvaar vir die herstel van die provinsie se openbare gesondheidsdienste.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

