On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe verslag toon glo uiterste geweld tydens plaasaanvalle

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:43 Tue, 15 Sep 2026

Nuwe verslag toon glo uiterste geweld tydens plaasaanvalle | News Article
Jacques Broodryk. Foto: AfriForum

’n Nuwe verslag toon plaasaanvalle strek veel verder as gewone roof en onthul ’n herhalende patroon van uiterste geweld en marteling teen slagoffers.

In die studie, More than robbery: Violence during attacks on farms and smallholdings in South Africa, 2019–2025, is 47 afsonderlike gewelddadige plaasaanvalle oor ’n tydperk van sewe jaar ondersoek. Die bevindings wys op ’n ernstige landelike veiligheidsprobleem, sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

“Die gebruik van geweld tydens hierdie aanvalle is sodanig dat dit wel as marteling geag kan word.” Dit kom ook voor dwarsoor Suid-Afrika. Die organisasie meen die aard van dié aanvalle maak dit ’n uitsonderlike soort misdaad wat doelgerigte en gespesialiseerde reaksie vereis.

Slagoffers is in die gevalle wat ondersoek is, onder meer gemartel, verbrand, gesteek en verwurg. Sommige is aan ernstige fisieke, seksuele en emosionele mishandeling onderwerp.


“In die verslag is vier sleutelbevindinge oor wat herhaaldelik in sake waar marteling voorkom, na vore kom. Dit sluit ooreenkomste in ten opsigte van die wapens wat gebruik word, die aard van beserings, die gebruik van afpersing en die vlak van buitensporige geweld,” sê Broodryk.

“Dié wrede aanvalle kom in elke provinsie voor en bevestig dat plaasaanvalle ’n nasionale landelike veiligheidsprobleem is wat ’n doelgerigte en gespesialiseerde reaksie vereis.”.

AfriForum doen opnuut ’n beroep op die regering om plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te erken en, soos ander ernstige prioriteitsmisdade, deur gespesialiseerde strategieë te bekamp.

'Gemeenskappe moet bemagtig word om ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid te speel'

“Die aard van plaasaanvalle vereis gespesialiseerde intelligensie, doelgerigte ondersoeke, toepaslike polisiëringshulpbronne en doeltreffende samewerking met landelike gemeenskappe.”

AfriForum vra ook die regering en politieke leiers om opruiende en haatlike retoriek teen Suid-Afrika se boerderygemeenskappe onomwonde te veroordeel.

“Politieke leiers kan nie aanvoer dat hulle ernstig is oor die bekamping van geweld, maar swyg wanneer opruiende retoriek wat ’n spesifieke gemeenskap teiken, genormaliseer word nie.”

Die organisasie sê die verslag beklemtoon ook landelike gemeenskappe kan nie slegs op die staat se reaksie op geweldsmisdaad staatmaak nie. “Gemeenskappe moet bemagtig word om ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid te speel, veral waar polisiekapasiteit en hulpbronne onvoldoende is.”

AfriForum sê hy sal daarom voortgaan om sy 178 buurt- en plaaswagte uit te brei en te versterk. Daar word ook beplan om verder in opleiding, tegnologie, kommunikasienetwerke en gespesialiseerde reaksievermoë te belê.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.