On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse oudpolisieman pleit skuldig weens bedrog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:01 Wed, 16 Sep 2026

Noord-Kaapse oudpolisieman pleit skuldig weens bedrog | News Article
Die aanklagte teen lt.kol. Pieter Andries Nel van die Upington-polisiekantoor sluit bedrog en geldwassery in. Foto verskaf

’n Voormalige Noord-Kaapse polisiebeampte sal nog byna drie maande moet wag voordat hy gevonnis word nadat hy skuld beken het op 80 aanklagte van bedrog en 80 aanklagte van geldwassery.

Lt.kol. Pieter Andries Nel, die polisie se voormalige hoof van finansiële dienste in die Z.F. Mgcawu-distrik, sal op 2 Desember gevonnis word. Hy het Dinsdag (15/9) in die Upington-streekhof skuldig gepleit, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.

Hy het na bewering meer as R1,2 miljoen se bedrieglike betalings na sy persoonlike bankrekening laat doen. Hy was verantwoordelik vir die magtiging van betalings aan diensverskaffers, asook dag- en oornagtoelae en reisuitgawes van polisielede in die distrik.

Die Valke sê die bedrog tussen 2022 en 2024 hou verband met transaksies ter waarde van R1,25 miljoen. Dit sluit in fiktiewe eise vir die polisie se voedingsprogram vir aangehoudenes, asook vals eise vir bande en brandstof vir polisievoertuie.


Voorts is verblyf- en reistoelaageise gedupliseer, waarna die geld in sy persoonlike bankrekening betaal is. Hy is op 28 Mei 2025 deur die Valke se ernstigekorrupsie-ondersoekspan by sy woning in hegtenis geneem nadat ’n J50-lasbrief uitgevoer is.

Die voormalige polisiebeampte is op 12 September 2024 ná ’n dissiplinêre proses uit die polisie ontslaan. Die staat het daarna R1,26 miljoen van sy pensioen verhaal om die bedrag wat hy aan die polisie verskuldig was, terug te betaal.

Genl.maj. Stephen Mabuela, provinsiale Valke-hoof, het die ondersoek- en vervolgingspanne met hul werk gelukgewens. Hy het terselfdertyd ’n beroep op polisiebeamptes gedoen om van die polisie se werknemersgesondheid- en welstandsdienste gebruik te maak wanneer hulle druk ervaar.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuuslyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.