Central SA
Beloning vir inligting oor moorde op agt vroue─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:34 Wed, 16 Sep 2026
Die polisie het ’n beloning van R400 000 aangekondig vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van diegene wat verantwoordelik is vir die dood van agt vroue aan die Oos-Rand.
Die beloning is deur prof. Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, en lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, bekend gemaak.
Die polisie het ’n gespesialiseerde multidissiplinêre taakspan aangestel om die moorde te ondersoek en vas te stel of daar ’n verband is.
Die polisie het intussen bevestig die meeste van die slagoffers is seksueel aangerand. “Meeste vroue is gedeeltelik geklee gevind, terwyl twee van die liggame heeltemal naak was,” sê lt.genl. Tebello Mosikili, waarnemende nasionale polisiekommissaris.
Een liggaam was egter reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding, wat dit moeilik maak om vas te stel of dié slagoffer ook op dié wyse aangerand is.
Een van die slagoffers, Itumeleng Kekana (32) van Qwaqwa in die Oos-Vrystaat, is op 17 Julie deur haar familie as vermis aangemeld. Haar naakte liggaam is op 3 Augustus langs die Great North Road in Pomona, Kempton Park, naby ’n rivier langs die R21 gevind.
Vrou ontsnap poging tot ontvoering
Die polisie het intussen bevestig ’n vrou wat Sondagaand van ’n beweerde ontvoeringspoging ontsnap het, het ’n beëdigde verklaring by die polisie afgelê. Haar getuienis word as belangrik beskou, aangesien sy besonderhede oor die aanval, moontlike verdagtes, die aantal aanvallers en moontlike voertuie kon verskaf.
“Die vrou is na bewering in Rhodesfield ontvoer, naby die gebied wat plaaslik as Mosquito Park bekend staan. Sy werk by die Premier Hotel OR Tambo, sowat 150 meter van die park.
‘Vrou daag by polisiekantoor op ná ontsnapping’
“Sy het later by die Tembisa-Suid-polisiekantoor opgedaag. Die polisie het nog nie besonderhede oor haar ontsnapping, die verdagtes of die voertuig bekend gemaak nie,” sê Dipuo Ditshego, Kempton Park-polisiewoordvoerder. “Die ondersoek is nog in ’n vroeë stadium en daar is nog geen beskrywing van die voertuig beskikbaar nie.”
Adj.pres. Paul Mashatile, voorsitter van die kabinetskomitee oor justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid, het die moorde ten sterkste veroordeel. “Geslagsgeweld het geen plek in ons gemeenskappe nie,” sê Mashatile. Hy het mans aangemoedig om sulke geweld te veroordeel en ’n leidende rol te speel in die beskerming van vroue.
Hy versoek wetstoepassingsagentskappe om saam met gemeenskappe en ander rolspelers te werk om te verseker dat diegene wat vir die misdade verantwoordelik is, aan die pen ry sodat vroue en kinders veilig kan voel.
Die polisie kan nog nie bevestig of die aanvalle die werk is van ’n reeksmoordenaar nie.

OFM Nuus cvdw
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427.

