Central SA
Kleurvolle Kalahari-kunsteweek wink op Van Zylsrus─── SUSAN MARÉ 09:28 Thu, 17 Sep 2026
Die dorp Van Zylsrus was die afgelope jaar meer dikwels in die nasionale en selfs internasionale kollig. En die dorp se tweede kunsteweek vanaf 29 September gaan die kunstewêreld behoorlik laat gons.
Nadat die eerste kunsteweek in 2025 hier aangebied is, is die grootste mensgemaakte geoglief in Afrika, wat ’n aasvoël uitbeeld, vanjaar by die dorp voltooi. Pieter Pienaar van Bridge Co-Creators is die siel en inspirasie van projekte in en om Van Zylsrus.
As kunstenaar, skilder en skrywer speel hy ’n leidende en kreatiewe rol om veral die kunste in die Noord-Kaap op te hef. Hy sê die kunsteweek, van 29 September tot 1 Oktober, se program groei mooi en selfs meer rolspelers as die vorige keer is betrokke.
“Toe ek in 2025 die eerste Van Zylsrus-kunsteweek beplan het, was dit harde werk, maar ek was seker nie so bewus van wat ek eintlik besig was om te doen nie. Danksy wonderlike kunstenaarsvriende en -medewerkers was en is dit weer vanjaar moontlik.”

Alicia Wambach, aanbieder op die kunsteweek, met kwaste en vrolike verfkleure. Foto verskaf
Wat dié kunsteweek anders maak, is die klem op kreatiewe blootstelling aan die kunste. Hier kan mense kom leer om self skeppend te wees.
Dit is nie toegespits op stalletjies, biertente en klipharde musiek wat in jou ore dreun nie, want daar is nie genoeg voete om dit te regverdig nie. Mense kom hierheen vir ’n diep belewing van die natuur, kunste en die geleentheid om klas te loop by kundiges.
Die kunsteweek beloof om ’n verrykende ervaring te wees. Aanbieders kom van so ver as Pretoria. Twee universiteite, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van die Pretoria, stuur minstens twee aanbieders.

Karen Visser is een van die aanbieders op die kunsteweek. Foto verskaf
Ook op pad na Van Zylsrus is Abel van Heerden vir demonstrasies oor mesmaaktegnieke (en jy kry ook jou eie mes), Alicia Wambach, met waterverfklasse en inspirasie vir koekversierders (jy stap weg met jou eie versierde koek), en Christiaan Snyman, met pottebakkersklei (hy vervoer jou skepping na Pretoria waar hy dit in sy oond gaan bak).
Karen Visser van die Artabella-kunsskool gaan inspireer met haar energieke akrielverflesse, Louis Krüger van Kovsies lei die fotografieskool, stel ’n mediaspan saam en bied ook ’n houtskooltekenklas aan, en Magriet Fourie gaan vrolikheid skep met haar ontspanne mixed media-aanslag.
Nog aanbieders is Ronél Pickels wat jou op ’n reis neem van kunsbevryding met haar unieke gemengdemedia en “langpapier”-metode, Shane Mayongo leer jou die kuns van tradisionele pottebakkery (en gaan bak jou pot in sy oond in Upington), en Sonette Haggies laat jou glimlag van oor tot oor met haar heerlike decoupage-klasse.

Die jong inwoners van Van Zylsrus gaan leer om te teken en hul kreatiwiteit ‘n hupstoot te gee. Foto verskaf
Pieter sê hy dink nie die organiseerders sal beskuldig kan word van ‘n vervelige kunsdoenprogram nie.
Letterkunde kom op Woensdag 30 September in die El Shaddai-gemeente aan die beurt en is ’n nuutjie op die kunsteweek.
’n Digterskool word deur die bekende skrywer en digter dr. Johan Lodewyk Marais, aangebied. Hy sal ook sy nuwe boek en navorsing oor Bonsmara-beeste aan boere in die Van Zylsrus-omgewing bekendstel.
’n Skryfskool deur Hettie du Plessis en een deur Anné Pretorius vir nie-skrywers is ook op die program. Die bekendstelling van Pretorius se Memoire-boeke gaan uniek wees. Sy gaan verduidelik hoe dié boeke jou kan help om jou storie vir jou nageslag te bewaar.
Die ATKV-skryfskool vir kinders word die middag (as die volwassenes stories vertel) deur Du Plessis gelei.
Andile Bhali, wat in die Karoo se toerisme-sektor werksaam is, is ’n sanger en deel van ’n sanggroep. Hulle het spesiaal vir die kunsteweek ’n lied in Afrikaans, Engels en Xhosa geskryf en gekomponeer wat hulle gaan sing.
Andile gaan ook in die El Shaddai-kerk ’n praatjie lewer oor wat die Karoomense doen om toerisme in hul streek te bevorder.
‘Ons droom is om die 2026 Van Zylsrus-kunsteweek met ’n keurige middagkonsert af te sluit’
Die geoglief-uitstalling in die hotel en uitstallings van kunstenaar-aanbieders in die plaaslike NG kerk gaan die kunsteweek verder inkleur.
Ander vrolike aanbiedings is die groet-die-son-ervaring op die rooi duine, die kaas-en-wyn-party by die hotel en dan die middagkonsert wat die kunsteweek afsluit.
“Ons droom is om die 2026 Van Zylsrus-kunsteweek met ’n keurige middagkonsert af te sluit. Donderdag 1 Oktober gaan daar orrelspel wees in die NG kerk. Gedigte en prosa gaan voorgelees word en plaaslike en “ingevoerde” sangers en musikante gaan optree.
“Die bas-bariton (en kunstenaar-pottebakker) Christiaan Snyman van Pretoria en sy violisvriendin, Lizette Vosloo, is van die musiekkunstenaars wat gaan optree.
“Ons nooi belangstellendes uit om na die kunsteweek te kom kyk, ’n klas of twee te loop en ons so te help om die kreatiewe ekonomie van die Kalahari ’n hupstootjie te gee.
“Die week beloof ’n wonderlike atmosfeer en samesyn tussen rooi duine. Ons hoop om al wat leef en beef in die Noord-Kaap en mense uit ander dele van die land te verwelkom.”
Navrae kan aan Pienaar gerig word by 083 585 3512.
OFM Nuus/Susan Maré cvs sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

