On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Steeds geen antwoorde vir peuter se ernstige reaksies op kos

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:06 Thu, 17 Sep 2026

Steeds geen antwoorde vir peuter se ernstige reaksies op kos | News Article
Zavian van Eck. Foto verskaf

’n Peuter van die Noord-Kaap se stryd met kos en voeding laat sy ouers met meer vrae as antwoorde, terwyl hy aanhoudend met reaksies en probleme met sy groei sukkel.

Zavian van Eck (19 maande) se probleme het op sowat sewe maande begin nadat hy nie blikmelk wou drink nie. Ná menige toetse is daar steeds geen duidelike antwoorde oor wat die reaksies op sekere kosse veroorsaak nie, sê Audrey Gerber, sy ma.

Hy sal nou na Bloemfontein verwys word vir verdere ondersoeke, wat moontlik ’n kameraondersoek kan insluit. Sedertdien het al hoe meer kosse reaksies veroorsaak, met simptome soos erge maagkrampe, ’n opgeswelde maag, suur maag en stoelgang, asook probleme met sy keel, neus, bors en asemhaling.

Hy het ook al verskeie soorte melk probeer. Hy kon eindelik net klein hoeveelhede van sommige daarvan verdra. Sy dieet is intussen drasties beperk en bestaan hoofsaaklik uit kos wat baie versigtig voorberei word.

“Ek stoom vleis vir tot twee uur en kook dit daarna verder saam met aartappels, patats en botterskorsie, maar selfs dan is daar dae waarop sy liggaam skielik negatief reageer,” vertel Audrey.

Zavian sukkel al van babatyd met sekere kosse. Foto verskaf

“Ons kry steeds slegte dae wat baie skielik kom met min of geen verandering aan sy dieet nie. Dit is ’n groot bekommernis, want ons weet nie of sy lyfie die kos ook gaan begin verwerp soos met vorige kossoorte nie.”

Zavian weeg ongeveer 9 kg en het sedert sowat nege maande oud rondom dieselfde gewig gebly. Sy beperkte voedselinname beteken dat hy nie altyd die hoeveelheid en verskeidenheid voeding kry wat ’n groeiende kind nodig het nie, hoewel hy steeds ontwikkelingsmylpale bereik het.

Die reaksies kan ook ernstig wees. Zavian kry soms ’n hoes of kug asof iets sy keel irriteer. Dit veroorsaak dat hy begin hoes, huil en vir kort rukkies ophou asemhaal. Hy het ook al koorsstuipe gehad en moes in die hospitaal opgeneem word nadat sy suurstofvlakke gedaal het.

Zavian gaan binnekort vir nog toetse. Foto verskaf

Hy het onder meer behandeling vir inflammasie, mangelontsteking en ’n oorinfeksie ontvang, asook suurstof en nebulisering. Die gereelde siektes het hom ook aan talle kursusse antibiotika blootgestel, wat sy ouers bekommer.

Ten spyte van die ernstige simptome het verskeie ondersoeke nog nie ’n duidelike antwoord opgelewer nie. Bloedtoetse, ’n sonar en toetse vir ses van die algemeenste allergene het nie abnormaliteite of ’n duidelike allergie aan die lig gebring nie.

“Dit is veral moeilik wanneer toetse normaal lyk, maar ons steeds elke dag sien dat iets nie reg is nie. Die onsekerheid en die vrees dat hy nie genoeg voeding kry nie, of dat sy lyfie verder teen ons gaan draai, is ongelooflik erg,” sê sy.

Zavian sukkel soms met ongemak weens sekere kosse. Foto verskaf

Die gesin se dae word grootliks rondom sy kos, simptome en mediese behoeftes beplan. Sy ma berei gewoonlik sy kos twee tot drie dae vooruit en gee hom kleiner, meer gereelde maaltye omdat sy eetlus baie goed is, maar sy maag nie altyd die kos verdra nie.

Wanneer hy ’n reaksie kry, raak hy ook uiters dors en kan hy groot hoeveelhede van sy tuisgemaakte drankie drink. Dit kan weer tot verdere ongemak lei omdat sy maag reeds sensitief en vol is. Die gebrek aan slaap is nog ’n groot uitdaging. Zavian word soms ses of sewe keer per nag wakker, wat beteken dat hy en sy ouers min rus kry.

Vir Audrey is dit veral hartverskeurend om te sien hoe graag hy wil eet en normaal wil wees. “Ek sal soms ’n toddler van sy ouderdom sien lekker smul aan iets so normaal, dan huil my hart binne my. Ek wil so graag net dieselfde vir hom hê – ’n gewone, normale lewe van kind wees sonder pyn.”


Die gesin hoop om R30 000 in te samel om hulle in staat te stel om verdere mediese opsies te ondersoek indien hulle nie deur die staatsektor antwoorde kan kry nie. Die geld sal onder meer vir verdere ondersoeke en spesialiste, reiskoste na Bloemfontein en ander mediese sentrums, medikasie, vervoer, spesiale voeding en ander mediese benodigdhede aangewend word.

“Ons grootste hoop is dat Zavian uiteindelik die regte diagnose en behandeling sal kry, sodat hy kan groei, gesond kan word en ’n normale, gelukkige kinderlewe kan hê. Hy is ’n klein vegtertjie met ’n groot hart.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066487 1427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.