On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse sakevrou se verhoor begin dan

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:48 Thu, 17 Sep 2026

Bloemfonteinse sakevrou se verhoor begin dan | News Article
Franzelle Venter en Dipao Moreng. Foto’s: Charne van der Merwe

Nadat ’n moontlike skikking buite die hof nie geslaag het nie, sal ’n Bloemfonteinse sakevrou se verhoor later vanjaar begin.

Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, het Donderdag (17/9) weer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 5 November, wanneer die verhoor na verwagting sal begin.

Venter staan tereg op ’n aanklag van aanranding op ’n oudwerknemer, Dipao Moreng. Sy is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die aanklag is verander na aanranding.

Moreng beweer Venter het haar op 24 Oktober verlede jaar by haar woning in Fichardtpark aangerand en tydens die rusie teen ’n sleepwa gedruk en gewurg nadat sy die perseel wou verlaat. Sy beweer sy het krapmerke aan die linkerkant van haar nek en op haar bors opgedoen. Sy is ook glo sedert die voorval werkloos.

Bloemfonteinse sakevrou se aanrandingsverhoor begin | News Article

Franzelle Venter. Foto: Facebook

Die aanklag is egter vroeër op Moreng se versoek teruggetrek. Die hof het op 9 Julie gelas dat Venter ’n Nicro-evaluering ondergaan. Die staat het destyds die evaluering versoek weens die erns van die bewerings teen haar.

Venter het op 14 Julie in die hof verskyn vir ’n formele Nicro-assessering, maar ná oorlegpleging met die staat het Moreng besluit om die saak voort te sit.

Sy het toe buite die hof gesê Venter het nie die ooreenkoms nagekom om haar te betaal nie. Daar was glo ook onderhandelinge tussen die partye oor ’n moontlike skikking buite die hof.


Sy hou vol sy het nie besluit om die saak te heropen omdat Venter haar geld skuld nie, maar omdat sy voel die feit dat Venter haar nie betaal het nie, wys dat sy steeds nie verantwoordelikheid vir haar optrede aanvaar of spyt daaroor is nie.

“Ek het besluit om voort te gaan omdat sy my aangerand het. Niemand het haar die toestemming gegee om aan my te raak nie.”

Die saak is op 13 Augustus uitgestel omdat Venter hoogswanger was en volgens haar vroedvrou, Melanie Kearney van Estherea Women’s Wellness Clinic, die stres en emosionele druk van hofverrigtinge in dié stadium onnodige risiko’s vir haar en haar ongebore kind kon inhou. Sy het intussen ’n baba gehad.

Teneal van Deventer en kandidaat-regspraktisyn Wiehan Schoeman van Horn & Van Rensburg Prokureurs tree namens Venter op.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.