On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

MRK genader oor haglike toestand van Vrystaatse paaie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:49 Fri, 18 Sep 2026

MRK genader oor haglike toestand van Vrystaatse paaie | News Article
Die toestand van verskeie Vrystaatse paaie is haglik. Foto verskaf

’n Formele klag is by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak oor die toestand van verskeie paaie op die Vrystaatse platteland.

Die klag dui onder meer op probleme met die R709 tussen Winburg en Excelsior, die R720 tussen Koppies en Edenville, asook die S629, S636 en S1045 in die distrik Bothaville. Die probleem het groter gevolge as bloot swak padoppervlaktes en slaggate, sê Dulandi Leech en David van Vuuren, DA-wetgewerlede.

Die party sê inwoners se toegang tot noodsaaklike dienste word geraak wanneer paaie moeilik begaanbaar of selfs onbegaanbaar raak. Dit kan onder meer die beweging van ambulansdienste en polisie, toegang tot werk en skole, asook die vervoer van landbouprodukte beïnvloed.

Jabu Mbalula, LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, het in April aangekondig die provinsie sal gedurende die volgende boekjaar ’n R1,4 miljard-padinstandhoudingsplan in werking stel. Die plan maak deel uit van die departement se begroting en sluit verskeie bestaande en nuwe padprojekte in.

Toegang tot noodsaaklike dienste word geraak wanneer paaie moeilik of onmoontlik begaanbaar raak. Foto verskaf

Van die projekte wat volgens die departement aandag sal ontvang, is openbarevervoerroetes in Thaba Nchu, die Oppermans-toegangspad, infrastruktuur in Qwaqwa, die Kroonstad–Steynsrus-, Senekal- en Rosendal-pad, asook die Tweespruit–Excelsior- en Koppies–Sasolburg-verbinding. Herstelwerk aan die beskadigde gedeelte van die R711 tussen Fouriesburg en Clarens is ook deel van die beplande werk.

“Die R709 is een van die paaie wat besondere kommer wek. Daar is bewerings dat swak padtoestande reeds probleme vir ambulansdienste veroorsaak,” sê Van Vuuren. Op die R720 word gereelde oorstromings volgens die party vererger deur beskadigde dreinering, terwyl verskeie roetes rondom Bothaville na bewering in ’n baie swak toestand is.

Die MRK sal na verwagting ondersoek instel na die moontlike uitwerking van onvoldoende padinstandhouding op inwoners se regte en bepaal of verdere optrede nodig is.


Van Vuuren het vroeër ook verwys na ’n voorlopige aanbieding deur Infrastruktuur Suid-Afrika, waarvolgens die provinsie meer as R6 miljard aan ekonomiese verliese weens swak padinfrastruktuur kan ly.

Sy party reken meer as 17 000 werksgeleenthede het verlore gegaan weens die druk wat swak padnetwerke op die landbou-, vervaardiging- en vervoersektor plaas.

Intussen verkwalik Armand Cloete, VF Plus-wetgewerlid, die provinsiale regering se bestuur en beleid vir die toestand van die provinsie se paaie. “Die regering se benadering tot onder meer swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie het ’n invloed op die uitvoering van padprojekte.”

Hy sê talle gestaakte en mislukte padprojekte in die Vrystaat bewys kontrakteurs moet voortaan op meriete aangestel word, ongeag hul velkleur.

OFM Nuus  cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.