On Now
Weekdays 18:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein gereed vir heropvoering van Emily Hobhouse se 1926-begrafnis

───   SUSAN MARÉ 16:23 Fri, 18 Sep 2026

Bloemfontein gereed vir heropvoering van Emily Hobhouse se 1926-begrafnis  | News Article
Emily Hobhouse. Foto: The Story of Emily Collection

Die heropvoering van Emily Hobhouse se staatsbegrafnis op 31 Oktober by die Nasionale Vrouemonument is van groot historiese belang.

Nadat sy op 8 Junie 1926 in Londen oorlede is, is haar as na Suid-Afrika gebring. ‘n Aangrypende begrafnis het op 27 Oktober 1926 in Bloemfontein gevolg, waar haar as in ‘n nis aan die voet van die Nasionale Vrouemonument geplaas is. 

Dit was die eerste staatsbegrafnis vir ‘n vrou en buitelander in Suid-Afrika. Sowat 20 000 rouklaers en hooggeplaastes onder wie genl. Jan Smuts het haar begrafnis bygewoon.

Anglo-Boereoorlog

Dit was ‘n dag van roerende huldeblyke om haar onbaatsugtige diens en die opofferings wat sy vir vroue en kinders gedoen het in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) te vereer.

Die begrafnisoptog deur Bloemfontein in 1926 is gelei deur ‘n erewag van honderde vroue en kinders, baie van hulle geklee in tradisionele drag of wit klere. Die optog het by die historiese Tweetoringkerk in die sentrum van die stad begin waar haar oorskot die vorige nag in staatsie gelê het.

Kinders wat na Emily genoem is, asook ’n Emile lei die stoet. Foto: The Story of Emily Collection

Nadat die roudiens deur eerwaarde J.D. Kestell gelei is, het die stoet oor ‘n afstand van ongeveer 4 km suidwaars uit die stad na die Vrouemonument beweeg waar sy ter ruste gelê is.

Die Eeufeesstoet in 2026 bestaan uit honderde Bloemfonteiners in tydperkkostuurms (1920’s kleredrag). Honderde leerders van Oranje Meisieskool en Eunice High School sal in wit geklee agter die draagbaar aanstap.

Die meisies sal palmblare dra wat spesiaal van die Uniegebou na Bloemfontein gebring word om by die monument neer te lê. Die oorspronklike Psalms en Skriflesing gaan weer opgevoer word, asook ‘n herskepping van Smuts se begrafnisrede deur die akteur Chris Vorster. Die heropvoering sal regstreeks op kykNET uitgesaai word.

Elsabé Brits. Foto: X

Die projekdirekteur, Elsabé Brits, joernalis en skrywer van onder meer die boek, Emily Hobhouse - Geliefde Verraaier, sê die optog op 31 Oktober gaan vreemd en surrealisties wees, soos 100 jaar gelede.

“Op daardie dag vier ons die merkwaardige lewe van Emily, pasifis, feminis en humanis. Ons gaan probeer om die seremonie so getrou moontlik te herskep soos wat dit in 1926 by die Vrouemonument in Bloemfontein op die terrein van die Oorlogsmuseum was.

Largo 

“ ‘n Totaal van 650 mense neem deel in die klere van die tyd. Nes in 1926 sal 200 meisies van Oranje Meisieskool en Eunice High School voor in die stoet loop. ‘n Skoolkoor sal die liedere sing.

“Die Vrystaatse Jeug-blaasensemble, onder leiding van Dingaan Chabalala sal die mars aangee. By die monument speel hulle Largo van Handel. ‘n Perdekommando is ook deel van die stoet.”

Genl. Jan Smuts lewer sy toespraak in 1926. Foto: The Story of Emily Collection

By die Vrouemonument sal “Smuts” sy huldeblyk lewer. Een van die aanhalings uit sy huldeblyk: “The first impression is one of the power and profound influence of women in the affairs of the world.

“The life of Emily Hobhouse is a striking instance of this power. Here was a great war, in which hundreds of thousands of men were engaged, in which the greatest Empire on earth was exerting all its strength and force.

“And an unknown woman appears from nowhere and presses the right button, and the course of our own history in South Africa is permanently altered.”

Herskepping

“Ons gaan probeer om alles te herskep: Die dominee, verse uit Hollandse Psalms, ‘n loslaat van duiwe, afgevaardigdes in antieke motors, ’n berede kommando en ’n treursaluut,” sê Brits.

“Hoekom is Emily belangrik? Sy was 'n fluitjieblaser. Teen groot persoonlike koste het sy die haglike toestande in die konsentrasiekampe, bestuur deur mans, op die lappe gebring.

“Alleen het sy ’n magtige Britse Ryk uitgedaag om sy vergrype in die gesig te kyk, in die middel van 'n oorlog toe patriotiese sentiment hoog loop. Tydens ’n era waar vroue geen stem gehad het nie, het sy aangedring dat ongeregtigheid raakgesien en reggestel word.”

Begrafnisgangers op die koppie agter die Vrouemonument. Foto: The Story of Emily Collection

Kaartjies vir Ons onthou Emily is by Webtickets beskikbaar teen R15 per persoon. Gratis parkering is op die skouterrein. Hekke open om 08:30 en sitplekke moet om 10:30 ingeneem word, omdat die regstreekse TV-uitsending om 11:00 begin.

Begrafnisgangers moet onthou om ‘n hoed en sonskerm te bring. Wat nog kan mense verwag? ‘n Nuwe uitstalling oor die lewe van Emily Hobhouse, ‘n demonstrasie van hoe kant gemaak word, plus spin-en weefdemonstrasies. Dit kom uit pogings om werk te skep vir oorlewendes uit die kampe.

Daar is ook ‘n Blokkies vir Emily-gemeenskapsprojek en ‘n herskepte seksie van ‘n konsentrasiekamp soos dit gelyk het. Daar sal interessante gedenkwaardighede en boeke te koop wees, plus smaaklike, tradisionele kos.

Musiekteater kom van 28 tot 31 Oktober aan die beurt in die Sand du Plessis-teater. Deon Opperman het ‘n splinternuwe musiekteaterdrama geskryf: The Story Emily. Die musiek is deur Janine Neethling en die regié deur Nico Scheepers.

Die akteurs is Kate Normington (Emily Hobhouse), David Minnaar (Lord Milner), Greg Viljoen (Lord Kitchener) en Daneel van der Walt (verteller). Kaartjies is by Webtickets te koop. Al die besonderhede oor die Emily100-herdenking is beskikbaar op die nuwe webtuiste of op Instagram.

OFM Nuus/Susan Maré dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.