On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Maluti-Hooglandskool se 28ste Skaapkopfees vrolik gevier

───   SUSAN MARÉ 12:07 Mon, 21 Sep 2026

Maluti-Hooglandskool se 28ste Skaapkopfees vrolik gevier | News Article
Oudskoolhoof Piet Smith en sy vrou, Susan, by wie die idee van ‘n Skaapkopfees ontstaan het. Foto: Susan Maré

Gewapen met ekstraskerp knipmesse en koelsakke met geheime inhoud het mense van so ver as Danabaai die 28ste jaarlikse Skaapkopfees van Maluti-Hooglandskool op Bethlehem bygewoon. En nou sien hulle reeds uit na die volgende smulparty volgende jaar.

Sowat 350 liefhebbers van krakerige, bruin gebakte skaapkoppe het Vrydagaand (17/9) om groot ronde tafels versamel in ’n stampvol skoolsaal. Altesaam 183 koppe is gebak en daar was vir 160 mense voorsiening gemaak vir potjiekos, terwyl nog 36 ’n stewige porsie skaapafval geniet het.

Die fees, wat in 1998 deur ’n voormalige skoolhoof, Piet Smith, en sy vrou, Susan, begin is, se doel is om fondse in te samel vir dié skool vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes.

Die gemeenskap van Bethlehem en veral die sakewêreld is volgens hom steeds van die skool se grootste ondersteuners en donasies word selfs ná elke fees ontvang.

Stigterslede en ondersteuners vir 28 jaar is van links dr. Henk Basson van Danabaai, Willem Naudé, Bertus Naudé, oudonderwyser, Piet Smith, oudskoolhoof, en Susan Maré – al vier van Bethlehem. Foto: Susan Maré

Vandag spog die skool met sy eie vyf oonde gebou deur die sweisonderwyser, Johan Wessels, saam met leerlinge in die sweisklas. So ver bekend is dit die grootste skaapkopfees in die Vrystaat.

Benewens Smith was ander stigterslede wat teenwoordig was dr. Henk Basson van Danabaai en Willem Naudé, Bertus Naudé en Susan Maré, almal van Bethlehem.

Smith vertel die skoonmaak van die koppe is nie speletjies nie en word met erns benader. Sy ma, wyle Toerie Smith wat in die distrik Bothaville geboer het, was vir jare leidinggewend. Sy het onderwysers geleer hoe om ’n kop skoon te maak. Dié tradisie gaan voort.


“Die koppe word skoon gewas, kliere en oortollige hare verwyder en selfs ’n hoëdruk-waterspuit word ingespan om die neuskanale goed skoon te maak. En ja, die skaap se tande word ook geborsel.

“Die fees het beskeie met 20 koppe in die koshuissaal begin. Die volgende jaar was dit 40. In die derde jaar het die fees so gegroei dat dit in die skoolsaal gehou is. Kerrie-skaapafval is bygevoeg en later ook skaappotjie.

“Die fees is gewild en dit was nog altyd ses maande vooruit bespreek deur mense van heinde en verre. Ons wou graag ’n informele en ontspanne geleentheid skep waar mense hierdie erfeniskos sommer  met hul hande kan eet, terwyl hulle met medekopgenote skerts, lag en dans.

Susan Maré, skrywer van die artikel, wys waaroor die aand gegaan het. Foto verskaf

”Elke fees is ten bate van die leerders. Vir my as oudskoolhoof is dit wonderlik om te sien hoe die tradisie steeds deur die knap skoolhoof Celeste Greyling en haar ewe bekwame personeel voortgesit word, en wat die geleentheid vir die gemeenskap beteken.”

Dit was inderdaad opmerklik dat daar baie gelukkige mense by dié fees was. In ’n tyd van neerdrukkende omstandighede in die wêreld het die geleentheid mense weer bymekaar gebring en kon hulle saam erfeniskos geniet.

Vir skaapkop-connoisseurs is daardie “Picasso’s” in hul blikborde altyd ’n gastronomiese ervaring. Terwyl opgewonde op die “Picasso’s” gewag word om van die vyf oonde aan te kom, word daar plesierig gekuier.

Dr. Bettie van Schalkwyk (middel) en haar dogters by die fees. Van links, voor is Tharina Prinsloo, Van Schalkwyk en Hermien Strydom. Agter is Inge Winter en Yolande Weldon. Foto: Susan Maré

Oudonderwyser Bertus Naudé vertel die gas-oonde word ongeveer 13:00 aangesteek en die koppe  ’n halfuur later gepak. “Hulle bak die hele middag en so van 17:30 ‘lees’ ons die mense in die saal – teen 19:00 dra ons die koppe in na die opskephoek.

“Deur die jare is ons tydsberekening en baktegnieke verfyn en het dit meer presies geword. Hierdie metode word nou deur ’n nuwe geslag bekwame onderwysers voortgesit.”

Skaapkop is een van die mees unieke en diepste gewortelde elemente van die Suid-Afrikaanse kos- en kultuurerfenis. Dit was ’n manier om niks van ’n geslagte dier te laat verlore gaan nie en is ’n gedeelde erfenis oor kulture heen.

Ruan van Rooyen geniet sy maaltyd. Foto: Susan Maré

Dit is veral die Karoo en Namakwaland wat skaapkopwêreld is. Om ’n skaapkop te eet is nie net kos nie. Dit is ’n sosiale ritueel met sy eie ongeskrewe reëls. Die kaak word van die boonste deel van die kop afgebreek en dan volg ’n werkswyse wat net skaapkopgenote sal verstaan.

Elke deel van die kop het ’n eie smaakprofiel en smaak soos niks anders nie. Die wangvelle is bruin en krakerig. Die wangvleisies is sag en ryk en die tong eiesoortig, sappig en verruklik.

Die sappige oë is ’n delikatesse. Knipmesse woel om die twee duit hul kaste te haal. Daar word tydsaam geproe aan die effens bitter oogballetjies, die sagte oogvet.


Dit is sekerlik vreesaanjaende cholesterolballetjies vir sommige mense met hoë cholesterol, maar wat, daar is niks wat ’n cholesterolpilletjie nie agterna kan help regruk nie.

En dan die harsings – ’n hoogtepunt. Ryk en lekker. Dis tyd om na die bylkapafdeling voor in die saal te beweeg met die kop op die blikbord om daardie diep goud uit te myn.

Wanneer die byl die klappie agter die skaap se nek oopkap lê dit daar. Weelde. Spreekwoordelike goud. Dit maak die speekselkliere mal van afwagting.

Terug by die tafel praat niemand as hulle die harsings eet nie. Dit is ’n smaaklike massa selweefsel wat in ’n vliesie omhul is. Die smaak van harsings voer jou na ’n kosplaneet waar woorde oorbodig is. Dis onvergelykbaar met enigiets wat ’n mens al ooit geproe het.


Skoolhoof Celeste Greyling sê ’n skool is so sterk soos die gemeenskap wat hom dra. Dis juis daarom dat soveel geleenthede vir hul kinders aangebied word.

“Hierdie jaar het ons sportspanne besonder goed gevaar. Ons het 31 leerders gehad wat deel was van die Vrystaatse spanne. Om aan hulle die geleentheid te bied om aan prestige-geleenthede deel te neem, gebruik ons die fondsinsamelings van ons projekte.

“Baie dankie aan die gemeenskap van Bethlehem vir hul deurlopende betrokkenheid en ondersteuning aan ’n projek soos die Skaapkopfees, wat help om ons kinders se drome te verwesenlik.”

Die skrywer Audrey Blignaut het eens geskryf: “Kyk, kinders, as ek in my doodskis lê en julle stap daar verby met ’n koppie stomende oggendkoffie, moet julle mooi kyk of ek nie regop gaan sit nie.”

Connoisseurs van skaapkop as erfeniskos sal waarskynlik sê: “Kyk, kinders, as ek in my doodskis lê en julle stap daar verby met ’n skaapkop op ’n blikbord ...”

Die digter W.E.G Louw het eens gepleit: “Die Afrikaanse mense moet tog nie hul ‘kulinêre kultuurbehoud’ op kosgebied verloor nie.”

So lank as wat daar nog slagskape op plase is, sal die erfnis by voortgaan. Dis aande soos dié waar mense besef hulle is nou by W.E.G. se hoëre “kulinêre kultuurbehoud” waar die “erwe van die vaad’re” vir die kinders erwe moet bly.

Volgende jaar maak Maluti-Hooglandskool wéér so.

OFM Nuus/Susan Maré cvs

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.