On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde Brandfortse boer se moordsaak verder vertraag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:25 Mon, 21 Sep 2026

Bejaarde Brandfortse boer se moordsaak verder vertraag | News Article
Die Brandfort-landdroshof. Foto: Charne van der merwe

Die tien jaar oue moordsaak teen ’n bejaarde Brandfortse boer is nie Maandag (21/9) op die hofrol geplaas nie weens ’n administratiewe geskil tussen die hof en die aanklaer.

Carl Christian Gutter (80) sou in die Brandfort-landdroshof verskyn het nadat die NVG besluit het om met die vervolging voort te gaan. Die hof het egter nie die saak op die rol geplaas nie, en ’n nuwe datum sal tussen die verdediging en die staat gereël word.

Gutter staan tereg op ’n moordaanklag wat verband hou met die dood van Sonnyboy Segalo, wat hy na bewering in Augustus 2016 op sy plaas, Palmietfontein, doodgeskiet het.

Luidens polisieverslae is beamptes na die plaas ontbied ná bewerings van ’n poging om ’n plaasaanval uit te voer. Vier verdagtes is glo op die toneel aangetref waar hulle deur boere en plaaswerkers aangehou is.

Segalo het met sy gesig na onder gelê met ’n skietwond in sy rug en het later aan sy beserings beswyk. Niemand is destyds vir sy dood in hegtenis geneem nie.

’n Formele geregtelike doodsondersoek is egter in Julie 2024 deur die Brandfort-landdroshof geopen. Die bevindinge van dié ondersoek, wat in Maart verlede jaar uitgereik is, het eindelik gelei tot ’n bevel vir Gutter se inhegtenisneming op ’n moordaanklag.

Allen Simpson, Tenten Leshome, ondersoekbeampte, en Carl Gutter. Foto: Charne van der Merwe

Hy is op 21 Mei verlede jaar in hegtenis geneem en later R2 000-borgtog toegestaan. Beslag is op die toneel op twee vuurwapens gelê vir ballistiese toetse. Segalo en drie vermeende medepligtiges is aanvanklik van poging tot roof aangekla, maar die ander beskuldigdes is sedertdien vrygespreek.

Tydens ’n vorige hofverskyning het Gutter die landdros in Sotho meegedeel dat een van die aanvallers, wat volgens hom gewapen was, steeds op vrye voet is en dat hy vir sy lewe vrees.

Adv. Allen Simpson, sy regsverteenwoordiger, het voorheen gesê daar is geen ballistiese getuienis wat sy kliënt met die skietery verbind nie.

Die saak is in Mei van die hofrol geskrap weens herhaalde en onverklaarbare vertragings terwyl op ’n besluit van die NVG gewag is.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.